Het jy gehoor?

VIDEO: Anel en James Alexander praat oor saamwerk en kinders kry

Dit is 6 jaar sedert Anel en haar man, James Alexander, teenoor mekaar gespeel het in Binneland, en nou in die nuwe SABC 2-reeks, Geraamtes in die kas, wat gisteraand begin het, herenig hulle weer op die kassie.

Maar agter die kamera is dié paartjie een van die besigste in die Afrikaanse televisie- en rolprentbedryf. Nie net werk hulle aan, skryf én vervaardig Afrikaanse produksies soos die Afrikaanse romantiese komedie Semi-Soet nie, hulle speel ook nou wéér teenoor mekaar in Geraamtes in die kas.

Geraamtes in die kas

Maar dié besige skedule veroorsaak dat die paartjie, wat al byna ’n dekade getroud is, mekaar soms min sien. “Partykeer werk ek deur die dag en as James teater-werk doen, werk hy in die aande. Dan is ons soos skepe in die nag. Ander tye sien ons mekaar die hele tyd, maar dan werk ons ook die heeltyd, soos met Semi-Soet. Ons het al groot lesse geleer. Ons probeer om ons huwelik eerste te stel en te prioritiseer. Dit is nie altyd maklik nie, maar ons probeer,” sê Anel. “Ons wil ook vir seker kinders hê, maar eers in die toekoms. Maar ons kom nou al nader aan die besluit!”

VIDEO: Anel en James praat oor hul nuwe televisie-reeks en hoe dit is om saam te werk

Die paartjie werk alreeds aan ’n nuwe produksie, maar wil nie te veel hieroor verklap nie. Vir nou kan ons hulle sien Dinsdagaande in Geraamtes in die kas (SABC 2, 19:30). Dié drama-reeks speel af in ’n Johannesburgse psigiatriese praktyk waar vier psigiaters en sielkundiges probeer om hul pasiënte, gesinne, beroepe en eie geestesgesondheid te balanseer. Dié praktyk bestaan uit ’n sielkundige (Gys de Villiers), ’n hippie van ’n musiekterapeut (Wayne van Rooyen), ’n huweliksberader en seksterapeut (Vuyelwa Booi), asook ’n forensiese sielkundige (Anel Alexander). Ander akteurs sluit in Duke Motlanthe, Kim Engelbrecht, Helene Lombard, James Alexander en Louis van Niekerk.

Agter die skerm-foto’s van Geraamtes in die kas: