FOTO: Getty Images / Gallo Images

FOTO: Getty Images / Gallo Images

Het jy gehoor?

Geri Halliwell in SA ontwerpersrok

Sy’t dit nou al by twee geleenthede gedra – dis mos ongehoord in Hollywood!

Die eerste keer was na die Vanity Fair Oscar-partytjie in Maart 2002 (toe almal gegons het oor haar nuwe maer lyf). In 2002 en 2003 het die media gereeld oor Halliwell se gewigsverlies berig, en sy’t uiteindelik in 2004 erken dat sy hulp soek vir haar bulimie. Maar Geri is terug en sy lyk beter as ooit. Sy’t intussen ma geword van Bluebell (3).

En nou, 7 jaar later, op 7 Oktober 2009 het Geri wéér die rok aangehad by ‘n Borskankerbewustheidsgeleentheid vir liefdadigheid in Londen.

Sien die foto’s hieronder – Geri in 2002 (links) en in 2009 (regs).

Geri in 2002 en 2009 met dieselfde rok

Die ontwerpers by Catacombes is baie bly dat sy besluit het om die rok ‘n tweede keer te dra.

“Sy het ons nie genoem as die ontwerpers in 2002 nie, maar het wel gesê dat sy die rok in Suid-Afrika gekoop het. Dit bewys dat ons rokke nie net geskik is vir rooitapyt-geleenthede nie, maar ook dat dit duursaam en tydloos is,” sê Waldo Oosthuizen van Catacombes Clothing. Hy en sy vennoot en vrou, Eva O’Keefe, is tans in Indië waar hulle materiaal koop vir hul somerreeks.

Halliwell het die rok in 2002 by Savannah in die V&A Waterfront gekoop. Lizel Visagie, wat in die winkel was toe sy die rok gekoop het, sê dat dit geblyk het Halliwell baie slim met haar geld te werk gaan.

“Sy was so opgewonde en haastig om die rok aan te kry dat sy nie eers die aanpaskamer se gordyn behoorlik toegemaak het nie! En toe staan en werk hulle met ‘n sakrekenaar uit presies hoeveel die rok gaan kos . . . asof sy nie genoeg geld het nie! Sy het darem ná ‘n paar onderhandelings ingestem om die volle prys vir die rok te betaal.”

Geri sê dat sy vrede gemaak het met haar lyf en nou ‘n gesonde liggaamsbeeld het. Sy het verlede jaar in ‘n onderhoud gesê: ‘”My liggaamsbeeld is nie meer gefokus daarop om die perfekte lyf te hê nie, hoewel ek myself steeds net soveel daaroor bekommer as ander vroue.”

Besoek Catacombes Clothing se facebook-blad

Adres: Catacombes Clothing, Hoofstraat 71, Mellville House, Kalkbaai

Tel. 021 788 8889