jenna lowe
Het jy gehoor?

GetMeTo21 se Jenna Lowe se veldtog gaan voort op haar 21ste verjaardag

Jenna Lowe is die inspirerende meisie wat vir jare aan pulmonêre hipertensie gely het en met haar veldtog, GetMeTo21, 36 000 mense motiveer het om orgaanskenkers te word. Sy sou vandag 21 geword het.

Jenna het op 10 Desember 2014 ’n dubbele longoorplanting gehad, en hoewel dit gelyk het of haar pad na herstel goed verloop, is sy byna 6 maande later, op 8 Junie vanjaar, oorlede.

Haar plan was om saam met die mense wat as nuwe orgaanskenkers geregistreer het, én die pasiënte wie se lewens daardeur gered is, ’n reuse-partytjie te hou vir haar 21ste verjaardag.

Hoewel sy dit nie kan vier nie, is haar nalatenskap enorm en gaan die veldtog, wat nou bekend staan as die Jenna Lowe-stigting, steeds voort. ’n Nuwe webblad met inligting oor pulmonêre arteriële hipertensie en orgaanskenking hou Jenna se goeie dade aan die gang. Mense kan hul eie stories daar deel en gesels met ander wat verstaan waardeur hulle gaan. Lede van die publiek kan ook skenkings maak.

Die Jenna Lowe-stigting het ook kragte saamgespan met RELATE-armbande om rooi kraal-armbande te maak wat Jenna se lewe vier. Dit is teen ’n spesiale prys van R35 per armband op die nuwe webblad beskikbaar. Alle winste gaan aan die Jenna Lowe-stigting.

Klik HIER om die webblad te besoek.

Ons dink vandag aan al Jenna se vriende en familie, veral haar ouers, Gabi en Stuart.