FOTO: Micky Hoyle

FOTO: Micky Hoyle

Het jy gehoor?

Dié appels verkies die wêreld PLUS Barbara se wen-appeltert

Daar is ‘n horde verskillende soorte appels. Maar al ooit gewonder watter een is ander lande se gunsteling? Tru-Cape voer appels na sowat 100 lande uit, en hier is 5 lande se oogappels.

Suid-Afrika verkies Golden Delicious

Die goue appel van die kombuis. Dis die appel waarmee jy bak en kook. Dit is lekker soet en ideaal vir appelterte, as sous by vark of gevul met neute en gebak vir nagereg.

Nigerië is mal oor ’n Granny Smith

Die suurste van die appels. Die skil is dikker en die vlees fermer as dié van sy nefies. Lekker vir rou eet en in slaaie.

Engeland verkies ’n Royal Gala

Dié appel met sy rooi en geel spikkels is ’n kleinerige, soet appel. Eet maar gou, want dit kan vinnig melerig raak. Dis eerder ’n appel vir kinders se kosblikke as een waarmee jy kook.

Australië is mal oor ’n Pink Lady

Dié dame kom oorspronklik van Australië, maar word deesdae baie suksesvol in SA verbou. Die skil is ligpienk en die vlees bros en soet. Lekker vir gebak of vir slaaie.

Amerika is dol oor ’n Red Delicious

Dis die appel waaraan Sneeuwitjie verstik het. Bekend vir die 5 knoppe aan sy onderkant.

In SARIE KOS se 39ste-uitgawe het ons kosredakteurs Barbara Joubert en Herman Lensing gekyk wie die lekkerste appeltert bak. Barbara se appeltert het toe koning gekraai.

Barbara se Franse Appeltert

FOTO: Micky Hoyle

FOTO: Micky Hoyle

Vir my moet ’n appeltert lekker lig wees – dis die vulsel wat belangrik is. Die bakproses is langdradig, maar beslis die moeite werd. Jy kan dié tert warm of by kamertemperatuur voorsit.

Genoeg vir 2 terte van 20 cm

Deeg

  • 195 g (210 ml) ongesoute botter, in blokkies gesny
  • 330 g (590 ml) koekmeel
  • knippie sout
  • 40 g (45 ml) strooisuiker
  • 2 eiergele
  • 60 – 75 ml yswater

Vulsel

  • 10 rooi appels
  • bietjie sout
  • 70 g (85 ml) strooisuiker
  • 2,5 ml fyn kaneel
  • 1 eier
  • 70 g (85 ml) strooisuiker
  • 35 g (60 ml) koekmeel
  • 200 ml room
  • 60 ml Calvados (appelbrandewyn) of enige ander goeie gehalte-brandewyn
  • sowat 40 g (50 ml) strooisuiker om bo-op te sprinkel
  • mascarponekaas vir voorsit
FOTO: Micky Hoyle

FOTO: Micky Hoyle

Deeg

Plaas botter en meel in voedselverwerker en meng tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg sout, suiker en eiergele by en meng. Terwyl voedselverwerker loop, voeg water lepelsgewys by tot deeg vorm. Haal deeg uit en maak toe met kleefplastiek. Plaas in yskas vir 30 minute.

Verhit oond tot 180 °C. Spuit 2 losboom-quiche-panne van 20 cm met kleefwerende kossproei. Haal deeg uit yskas en verdeel in twee. Rol albei stukke baie dun uit op meelbestrooide werkvlak. Voer panne uit met deeg, maar laat oortollige deeg oor die rand van panne hang. Prik bodem met ’n vurk.

Plaas panne op groot bakplaat. Plaas ’n groot stuk bakpapier in elke pan. Vul met droë boontjies en plaas in oond. Bak 15 minute. Haal uit oond en verwyder papier en bone. Sny deeg wat oor die rande hang versigtig af met ’n baie skerp mes. Plaas tertkorse weer in oond vir 10 minute. Haal uit en laat afkoel.

Vulsel

Skil appels en plaas in groot bak met koue water. Voeg sout by water om te keer dat appels verbruin. Halveer appels en verwyder stronke. Sny in baie dun skyfies. Hou in soutwater tot jy dit benodig. Plaas al die appelskywe op kombuispapier om droog te raak. Plaas in mengbak en gooi die eerste 70 g strooisuiker en kaneel oor. Meng goed tot al die appels bedek is. Pak appels styf teen mekaar (sien FOTO bo) op kors. Plaas in oond en bak vir 20 minute. Haal uit en hou eenkant.

Klits eier, die tweede 70 g strooisuiker en meel tot lig en romerig. Voeg room en brandewyn by en meng goed. Skep sous versigtig op appels. Plaas terug in oond en bak 10 minute. Haal uit en sprinkel 40 g strooisuiker oor. Plaas weer terug in oond vir 20 – 30 minute tot sous gestol het. Verhit roosterelement van oond en rooster tot mooi bruin bo- op. Haal uit en keer versigtig uit panne.

Sit voor met mascarponekaas.

Lees nou: