Het jy gehoor?

Graeme en Morgan Smith is swanger!

SARIE in die Februarie-uitgawe van SARIE met die pasgetroude paartjie oor hul verhouding en die toekoms gesels.

“Ek glo Morgan is die regte persoon vir my. Sy is ’n goeie vrou en vriendin, en sy sal ook ’n goeie ma wees. Ons doen soveel dinge saam, selfs kook, wat ek eers nie kon doen nie.”

“Ons is baie ontspanne oor ons verhouding. Ons besef alles kan nie altyd seepglad verloop nie, en die huwelik gaan harde werk verg, maar ons beplan om probleme positief te benader. Ons wíl dit laat werk.” Hul huwelik is, net soos wat ouerskap vir hulle sal wees, “’n geloofsprong”, sê Graeme. Hulle hoop hulle is “so geseënd om kinders te hê”.

Graeme, wat lank met die model Minki van der Westhuizen uitgegaan het, sê: “Ek het nog altyd weggehardloop van trou, dit het net nooit vir my reg gevoel nie. Ek het ook nie gedink ek sou die geskikte persoon ontmoet terwyl ek nog krieket speel nie.”

Morgan het uit die bloute in sy lewe opgedaag. “Pas nadat ek haar deur ’n gemeenskaplike vriendin ontmoet het, het ek vir ’n vriend gesê sy is my trouvrou. Sy’s net so anders as my vorige meisies.”

Morgan het dit ook dadelik besef: “Jy weet dit net!”

Dié dat hulle ná net ses maande verloof geraak het. Die paartjie is op 6 Augustus verlede jaar in die St. Bernard-kerk in Kaapstad getroud. Die intieme plegtigheid was “alles waaroor ek gedroom het”, vertel Morgan. Vir Graeme was dit “die hoogtepunt” van sy lewe. Sedertdien is dit vir hom heerlik om by haar te wees.

“Sy laat my beter voel oor myself en vir haar wil ek selfs ’n beter mens word. Ek sal baie opoffer vir haar.

Morgan sê haar man verstaan haar beter as wat sy haarself verstaan. “Hy verdra my wanneer ek my oorgee aan emosies, hy gee uitstekende raad, bly oopkop en aanvaar my nes ek is.”

Dié sangeres sê sy het nie vooraf veel van ons “pragtige land” geweet nie, maar sy is klaar “baie lief ” vir SA, en veral Kaapstad. “Soggens wanneer ek opstaan en uitkyk oor Tafelberg, besef ek hoe geseënd ons is om so ’n uitsig en blyplek te hê. Ek weet ek het die regte besluit geneem, al mis ek my familie.”

So stap mnr. en mev. Smith die toekoms stap vir stap tegemoet. Langtermynplanne is daar nie, maar saam is hulle ’n gedugte span. Sterk en gemotiveerd om hul huwelik te laat werk.