via logo
Het jy gehoor?

GROOT NUUS! Nuwe Afrikaanse leefstyl-kanaal op DStv

Media24 kondig vandag aan dat hulle ’n splinternuwe Afrikaanse kanaal, VIA, op 9 November op DStv die lig laat sien. En SARIE is deel van die pret!

 

’n Sterk samewerking met tydskrifte soos SARIE, Huisgenoot, Landbouweekblad, tvplus, Kuier, Tuis, Idees en Weg se digitale platforms sal gesprekke oor die kanaal dryf en verseker dat die inhoud tussen die kanaal en dié handelsmerke interaktief is. Gedrukte koerante soos Beeld, Die Burger en Rapport en die digitale nuusplatform Netwerk24 sal ook ’n sleutelrol speel.

Dié nuwe inisiatief beoog om uitstekende inhoud en produkte vir Afrikaanse gehore oor die veelsydige platforms van Media24 te skep. “Ons is ontsettend opgewonde oor VIA en trots daarop dat ons ons lojale Afrikaanse gehore met ’n splinternuwe Afrikaanse TV-kanaal kan bederf,” sê Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24.

Volgens Esmaré is ’n TV-kanaal die logiese volgende stap vir Media24 as media-voorloper in Afrika. “Ons is besonder sterk in digitale, sosiale en drukmedia en verheug om TV nou by te voeg as nog ’n platform waarop ons gehore kan bedien. Hoewel ons nou sal saamwerk met ons tydskrifte, koerante en digitale platforms, is VIA nie ’n duplisering van die inhoud wat ons skep nie. Dis alles nuut in Afrikaans.”

VIA sal begin met 22 nuwe leefstylprogramme oor ’n verskeidenheid onderwerpe soos dieet, kos en verhoudings. Dit fokus op Afrikaanse vroue en hul gesinne.

Ek is oortuig die kanaal gaan saam met ons huidige en nuwe gehore groei en ontwikkel tot ’n huishoudelike naam

- Charlene Beukes, hoof van Media24 Leefstyl

Die programme wat VIA bied, sluit die volgende hoogtepunte in:

  • Inspirasiekos met SARIEDie talentvolle SARIE-kosredakteur, Herman Lensing, is op soek na ons beste bestanddele. Hy ontmoet die passievolle persoonlikhede agter die bestanddele – en kook dan ’n feesmaal!
  • Die eet-oorlog – Drie diëte. Drie dapper vroue. En ’n 30 dae lange geveg teen vetrolle. Deelnemers wroeg en weeg dag na dag met die hulp van ’n span kenners om in hul nuwe swembroeke te kan pas.
  • Zavion – Zavion vrek oor goud: of dit nou as glansbyeenkoms-koördineerder of tienkamp-atleet is. Die kameras probeer byhou terwyl hy sy besige dagboek tussen troues en tienkamp balanseer.
  • Jy het ’n Wenresep! – Drie hoopvolle kokke spook dit uit sodat die ikoniese Huisgenoot-kosredakteur, Carmen Niehaus, een van die geregte kan bekroon met die gesogte Wenresep-status.
  • My droom-trourok – Amper-bruide ontmoet die bekende Diaan Daniels om trourokke deur top-ontwerpers aan te pas. Elke amper-bruid het haar perfekte trourok in gedagte, maar haar smaak sal nie altyd die oorhand kry nie.
  • ’n Halfuur met Hanlie – Hanlie Retief, Rapport se doyenne van onderhoudvoerders, gesels met mense wat haar interesseer, verstom en inspireer.
  • Kom ons braai – Ons gunsteling-tydverdryf is nou ’n sosiale eksperiment. Drie paartjies wat mekaar nie ken nie, braai by mekaar en heelwat gebeur om die vuur. En ons praat nie net van die lekker kos nie!

Die VIA-span word gelei deur Cheryl-Uys Allie, die hoof van die kanaal, Pat van Heerden, die inhoudshoof, en Izelle Venter, Media24 se hoofredakteur: redaksionele oplossings.

VIA sal op DStv-kanaal 147 uitgesaai word en is op DStv Premium-, Extra-, Compact- en Family-pakkette in Suid-Afrika en Namibië beskikbaar. Die kanaal sal te sien wees vanaf 9 November om 16:00.

Besoek viatv.co.za vir nog inligting.