FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Het jy gehoor?

Haai oe, Anna Davel is nou die Feëkoningin!

Haai oe, Blommie! Die pantomime Liewe Heksie: Flower Power het ’n nuwe Feëkoningin en dis die sanger Anna Davel. 

Anna het die rol van die Feëkoningin oorgeneem by die sopraan Zanne Stapelberg, terwyl Carel Nel, ’n bekende Kaapse akteur, die rol van Koning Rosekrans oorgeneem het by Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk. Saam met Margit Meyer-Rödenbeck (Liewe Heksie) en Chris van Niekerk (Karel Kat) gaan Anna gehore vermaak by die Brooklyn Teater in Pretoria, vanaf 19 April tot 1 Mei.

Volgens Anna het Margit haar gekontak om deel te raak van dié Liewe Heksie-geselskap.

“Ek het dadelik ja gesê, want ek het al verskeie van haar produksies bygewoon en weet dit is altyd professioneel en baie vermaaklik. Ek het nie baie lank daaroor gedink nie, want ek was lus vir ʼn uitdaging,” het sy aan SARIE.com vertel.

Vir Anna is Liewe Heksie ná al die jare steeds gewild omdat die stories so goed geskryf is.

“Elke karakter klim onder jou vel in, die goeies en die slegtes. Jy raak sommer baie vinnig (kinders en grootmense!) geheg aan elke karakter. Ek het as kind die langspeelplate oor en oor geluister, en ek dink die grootste sukses is dat die karakters so menslik en vol foute is. Die spanning tussen goed en sleg is heeltyd onderliggend. Maar al is daar belangrike lewenslesse in Verna Vels se stories, is daar ook heelwat komedie en absurditeite in wat jou laat dubbeld vou van die lag.”

Gister het die eerste vertoning by die Brooklyn Teater begin.

“Ons almal giggel die heeltyd vir mekaar. Veral agter die verhoog. Ek loer graag tussen my tonele wat die ander akteurs aanvang, en elke aand is anders.”

O griet, Anna gaan ’n oulike fee wees!

Margit Meyer-Rödenbeck se dogtertjie, Luca, speel die rol van Mattewis die kat FOTO: Robert Hamblin

Margit Meyer-Rödenbeck se dogtertjie, Luca, speel die rol van Mattewis die kat
FOTO: Robert Hamblin

Kyk net hoe snaaks lyk Loukmaan Adams (Geelheks) in die voorskou!

Vervaardiger: Arena Produksiehuis-Margit Meyer-Rödenbeck
Regie: Lizz Meiring
Teks: Francois Toerien en Margit Meyer-Rödenbeck na gelang van Verna Vels se karakters.
Musiek: Emile Minnie
Choreografie: Loukmaan Adams
Dekor: Gerrit Snyman
Kostuums: Rouve Hattingh, Susanne Strydom
Beligting: Pieter Jan Kapp
Tegniese regisseur: Jeanne Steenkamp
Verhoogbestuurder: Carna Visser

Vir meer besonderhede, skakel 012 460 6033 of besoek www.brooklyntheatre.co.za