Het jy gehoor?

Halle Berry was swanger én peri-menopousaal

Die Hollywood-aktrise Halle Berry het dié week ’n groot onthulling oor haar jongste baba gemaak op die Ellen DeGeneres Show …

Maceo, die babaseun van Halle en haar man, die Franse akteur Olivier Martinez (onlangs te sien in Revenge), is Oktober verlede jaar gebore. Toe die Oscar-bekroonde aktrise dié week met Ellen gesels het, het sy vertel dat sy eintlik al in haar peri-menopouse was toe sy swanger geraak het.

Só ’n swangerskap word glo ’n geriatiese swangerskap genoem. Die woord “geriaties” beteken “ou mens”!

Die 47-jarige ster het vertel dat Maceo daarom haar klein wonderwerk is. Sy reken dis die gebede van die baba se ousus, Nahla (6), wat haar swangerskap laat werk het.

“Net haar gebede kon dít gedoen het. Ek het eerlikwaar nie gedink dis op my ouderdom meer moontlik nie,” het Halle vertel.

Kyk hier na Ellen se onderhoud met Halle

SARIE-leser deel haar peri-menopousale ervarings

Dít moet jy oor menopouse weet

Volgens Heidra Dahms, ’n ginekoloog van Johannesburg, gaan die meeste vroue tussen 45 en 50 deur hul menopouse, hoewel dit al van 38 af normaal is. Menopouse is die punt waar jy vir ses maande lank nie gemenstrueer het nie. Die ergste simptome sluit die volgende in:

  • Moegheid
  • Warm gloede
  • Hoofpyn
  • Verlaagde libido
  • Vaginale droogheid
  • Vergeetagtigheid
  • Ongereelde menstruasie-siklusse
  • Gemoedskommelings
  • Buierigheid & irritasie
  • Slegte slaapsiklusse
  • Depressie

’n Seks- en verhoudingsterapeut se raad aan peri-menopousale vroue

Dié simptome kom in die vier jaar vóór jou menopouse voor. Die simptome is meestal as gevolg van verlaagde vlakke van die hormoon estrogeen in jou liggaam.

Baie dokters behandel dié simptome met hormoonvervangingsterapie (HVT). Daar is baie soorte HVT-produkte op die mark.

Kies só die regte HVT vir jóú PLUS meer oor die “natuurlike manier”

As jou ginekoloog jou en jou mediese geskiedenis goed ken, kan die eerste een wat jy probeer reeds werk. Sommige mense (minder as 20%) moet drie of vier verskillende soorte probeer. Indien jy HVT gebruik, moet jy jaarliks jou bloeddruk, estrogeen-, cholesterol- en bloedsuikervlakke laat toets en vir ’n mammogram gaan.

Sommige vroue verkies om natuurlike behandelings vir hul menopouse-simptome te gebruik. Dié behandelings is gewoonlik ’n mengsel van kruie, ’n multivitamien en aanvullings met onder meer kalsium, magnesium, kalium, borium, omega 3 en omega 6.

Bronne: SARIE.com & YouTube