FOTO: Leana Clunies-Ross

Het jy gehoor?

Hanna Grobler en Bok van Blerk se Bosveld-troue

Dit was in die Bosveld-lug, met die Blyderivier wat langs hulle verbyvloei, wat Hanna Grobler en Bok van Blerk Saterdag in die geheim getrou het.

Die paartjie het hul spesiale dag by Moholoholo, ’n wildreservaat en rehabilitasiesentrum vir wilde diere naby Hoedspruit, met hul familie en goeie vriende gedeel. Volgens Jenny Griesel, Hanna en Bok se woordvoerder, was die troue elegant en gesofistikeerd.

“Die seremonie was in ’n klein kapel by die onthaalplek en die onthaal is buite gehou,” vertel Jenny.

FOTO’S: www.moholoholo.co.za

Hanna het ’n pragtige wit rok gedra en haar vier bruidsmeisies – haar suster en drie vriendinne – het pastelkleure aangehad. Bok se neef was sy enigste strooijonker.

“Daar was gemengde blomme in verskillende kleure – dit was klassiek en smaakvol,” onthou Jenny.

Só het Hanna gelyk

Hanna het glo asemrowend gelyk in die rok wat die ontwerper Anel Botha vir haar gemaak het. Anel het ook Karlien van Jaarsveld se trourok én haar eie trou-uitrusting ontwerp.

Volgens Jenny was Hanna se hare losserig opgesteek en haar grimering was sag en elegant.

Bok van Blerk en Hanna Grobler by die bekendstelling van 'As jy sing' FOTO: Phyllis Green

Bok van Blerk en Hanna Grobler by die bekendstelling van die fliek As jy sing.
FOTO: Phyllis Green

Hanna het twee voorkomste gehad vir haar en Bok (oftewel Louis Pepler) se groot dag. Die eerste rok word beskryf as ’n whimsical princess-voorkoms. Sy het dié rok, ’n balrok gemaak van kant en tulle, vir die seremonie in die kapel gedra. Daaraan is piepklein driedimensionele blomme wat aan die borsstuk en aan die fyn skouerbande vasgewerk is. Die rugkant is van ’n deursigtige net-materiaal gemaak en het dieselfde blomme-ontwerp op, verduidelik ontwerper Anél Botha.

Op die rompgedeelte se soom is geskulpte kant (die rant lyk na skulpe) en fyn blomme. Die sleep is 1,5 m lank en het glo ’n baie dramatiese voorkoms gegee toe Hanna by die kerk instap. Sy het ook ’n lang val, met kantdetail, gedra.

Vir haar tweede voorkoms by die onthaal het Hanna bloot haar romp uitgetrek. Dié rok het ’n lae rug gehad met ’n meermin-silhouette en ’n klein sleep. Die oorspronklike romp was net bo-oor die rok vasgemaak sodat Hanna haar gaste weer kon verras toe sy by die onthaal opdaag. Dié tweede rok se rompgedeelte het ook kant- en blomdetail gehad.

Ontwerper Anel Botha sê Hanna het sag en bekoorlik in dié rok gelyk tydens haar en Bok se eerste dans as meneer en mevrou Pepler.

Trotse skoonfamilie

Intussen is die pasgetroudes op die lughawe om op hul wittebrood te vertrek. Bok het so daaroor getwiet.

Hanna se pa, Nic Grobler, het daarna ook op Twitter vir sy dogter en sy skoonseun gesê hulle moet die vakansie geniet en veilig terugkeer huis toe. Die antwoord? Bok het dié twiet toe aan Nic gestuur:

Hanna se broer, Johann Grobler, het ook op Twitter vertel van die heerlike troue en sy swaer gister ook geluk gewens met sy verjaardag.

#MevrouPepler – lees hier waaroor dit gaan