Hannes, uitgevat vir ons fotosessie, ontspan in sy tuin met sy hondekinders (van links) Liza, Mariet en Toto (voor).
FOTO: Willem Lourens

Hannes, uitgevat vir ons fotosessie, ontspan in sy tuin met sy hondekinders (van links) Liza, Mariet en Toto (voor). FOTO: Willem Lourens

Het jy gehoor?

Hannes van Wyk gesels oor sy eerste twee maande by ‘Kwêla’

Die gewilde akteur en TV-aanbieder Hannes van Wyk is die afgelope 2 maande die aanbieder van die kykNET-program Kwêla. SARIE.com hoor hoe dit met hom gaan … 

Hy het einde Mei die leisels by Coenie de Villiers oorgeneem en geniet elke oomblik daarvan. “Ek is oorweldig deur die positiewe reaksie van die kykers. Ek is nie baie aktief op sosiale media nie, toe wys een van my vriende my die kommentaar op Facebook en ek was aangenaam verras.”

FOTO: Facebook  Kwêla

FOTO: Facebook Kwêla

“Ek geniet dit om met gewone mense te gesels wat buitengewone stories het om te vertel. Interessante stories met diepte. Dit verg baie navorsing en jy moet goed voorbereid wees om in slegs 8 minute die belangrikste inligting deel van die onderhoud te maak.”

Hannes voel hy leef homself in die program uit. “Anders as Coenie doen ek ander tipe, ongewone stories uit ’n ander oogpunt uit. Ek dink my styl is minder formeel en ek vra vrae waarin ek belangstel,” vertel Hannes.

Die onderhoud wat vir hom sover die meeste uitgestaan het, is met Juliana Coetzer. Sy is die skrywer van die boek Bloedvreemd wat handel oor haar persoonlike reis ná haar dogtertjie Anneke met ’n vreemde siekte gediagnoseer is. “Dit was ’n baie emosionele onderhoud, maar dit staan beslis vir my uit.” Dié episode word op 5 Augustus uitgesaai.

Hannes woon in Kaapstad en Kwêla word in Johannesburg opgeneem, maar die baie reis pla hom min. “Ek is gewoond aan die op-en-af vlieg. Ek woon al baie lank in die Kaap en selfs toe ek in Egoli gespeel het, het ek naweke huis toe gekom.”

En Kwêla is boonop nie al waarmee hy besig is nie. “Ons het pas klaar getoer met die pantomime Liewe Heksie: Flower Power en my nuutse fliek, Verksietende Ster, word volgende maand tydens die Silwerskermfees uitgereik.” Hannes doen ook ’n eenmanstuk, Wat ’n ma moet weet, by verskeie vrouedagfunksies. “Ek en my ma is baie na aan mekaar, ons verhouding het dié stuk inspireer.”

Daar word ook volgende jaar ’n boek bekend gestel waarin Hannes die 40 vroue wat sy lewe en loopbaan die meeste beïnvloed het, vereer.

Lees ook