Het jy gehoor?

Harry Potter-sterre binnekort sprokieskarakters van ouds

Emma Watson (Hermione van Harry Potter) is die mooiste in die land wanneer die glasskoentjies aan haar voete getrek word – dis nou te sê indien sy die hoofrol in Disney se volgende projek, Cinderella, speel. Cate Blanchett vertolk die nare stiefma in dié prent.

Emma het nog nie finaal dié rol aanvaar nie en ander aktrises wat ook oorweeg word, is Gabriella Wilde (The Three Musketeers), Imogen Poots (Need for Speed) and Alicia Vikander (Anna Karenina).

Maar luidens gerugte in Hollywood lyk dit of die 22-jarige Harry Potter-aktrise die rol sal losslaan. Sy is sedert haar dae as Hermione baie besig met rolle in groot films soos The Perks of Being a Wallflower, Darren Aronofsky (wat ook die regisseur van Black Swan was) se Noah, die regisseur Sofia Coppola se The Bling Ring, en This Is the End, ’n komedie uit die pen van Seth Rogen (Pineapple Express).

Daniel Radcliffe

Emma se medester in die Harry Potter-reeks, Daniel Radcliffe, is dalk ook binnekort in ’n bekende verhaal te sien. Hy gaan moontlik die rol van die boggelrug Igor vertolk in die nuwe Frankenstein-film. Igor is dr. Frankenstein se laboratorium-assistent in dié 19de eeuse storie.

Daniel is byna net so besig soos Emma en speel op die oomblik in ’n West End-blyspel, Cripple of Inishmaan. Hy is ook saam met Elizabeth Olsen (die jonger suster van die tweeling Mary-Kate en Ashley Olsen) te sien in Kill Your Darlings, wat by die Sundance Filmfees vroeër vanjaar goed gevaar het. En hy speel in The F Word en Horns wat later vanjaar vrygestel word.

Sprokies uit ons kinderdae wat na die grootskerm gebring word, is volgens fliekkenners vanjaar een van die groot temas in die rolprentbedryf. Dit volg ná die sukses van Alice in Wonderland, Oz: The Great and Powerful (sien die lokprent hieronder) en Maleficent, waarin Angelina Jolie speel.

Wat sê jy? Watter storie van jou kinderdae wil jy op die grootskerm sien?