Warren en Felicity Whiteley.

Warren en Felicity Whiteley.

Het jy gehoor?

Beserings: Só help sportmanne se vroue

Vir sportmal Suid-Afrika is ons sportmanne ons helde. En ons deel in hul lief en leed op die sportveld. Hul sukses op die sportveld is ook deels te danke aan die vroue in hul lewe wat hulle ondersteun.

Rugby is nie vir sissies nie en die afgelope weke het ’n hele paar geharde rugbysterre deurgeloop onder beserings. Jan Serfontein, Warren Whiteley … en wie onthou nie die vreesaanjaende plettervat op losskakel Patrick Lambie tydens die eerste toets tussen die Iere en die Springbokke nie, waarna hy met harsingskudding van die veld gedra is?

Hy het ook die volgende twee toetse misgeloop, en twyfel bestaan of hy Saterdag vir die Haaie kan uitdraf in die wedstryd teen die Leeus. Sy vrou, Kate, het oor Pat se besering aan SARIE.com gesê: “Ons het geen beheer daaroor nie, so dit help nie om jou te ontstel nie. Beserings is deel van die game en ’n mens moet daarop fokus om beter te word. Dit is wat hy tans doen.”

Intussen het nog ’n terugslag die Bokke (en die Leeus) getref, want Warren Whiteley het ’n graad-drie-skeur in ’n skouergewrig opgedoen en hy sal vir die res van die Superseisoen buite aksie wees. Hy het verlede Saterdag geskitter in die Springbokke se wedstryd teen die Iere in Port Elizabeth toe hy in die plek van Duane Vermeulen moes uitdraf as agsteman. Duane het ’n elmboogbesering wat hom minstens ses weke langs die veld gaan hou. In Warren verloor nie net die Leeus hul kaptein vir die res van die seisoen nie, maar as hy en Duane nie vinnig herstel nie, gaan Bok-afrigter Allister Coetzee ’n probleem op agsteman hê vir die Rugbykampioenskap in Augustus.

Warren se vrou, Felicity, sê dit raak nie makliker om hom te sien rugby speel nie. “Ek en Warren is reeds agt jaar saam en dit raak glad nie makliker om hom te sien speel nie. Veral as dit lyk of hy beseer is. Ek deel in sy teleurstelling, want ek weet hoe lief hy vir die spel is en hoe graag hy wil bydra tot sy span. Dis regtig baie moeilik vir hom om van die kantlyn af te kyk. Dis ook baie moeilik vir hom om te wag vir die uitslae van ’n skandering of X-strale en om te hoor hoe lank hy buite aksie gaan wees.”

Felicity is maar te bewus van die druk wat saam met sportmanskap gaan en daarom probeer sy hom so goed sy kan ondersteun. Sy verduidelik: “Ek probeer by al sy wedstryde wees. Kommunikasie is ook belangrik; om te luister en met hom te praat oor sy teleurstellings, doelwitte, drome en hoe hy beplan om vorentoe te gaan, nie net met sy besering nie, maar ook sy beroep. Ons is sterk gelowig en bid saam. Ek dink ook dis belangrik vir spelers om elke nou en dan bietjie weg te breek van die spel om te verfris en te herfokus. Of dit nou is om vir ’n kort tydjie weg te gaan, of om tyd saam met vriende en familie deur te bring. Om tyd weg van rugby af saam deur te bring, is onontbeerlik. Ek dink wanneer hy tyd deurbring met ons dogtertjie, Ava, lig dit ook sy gemoed.”

Op die vraag of hy soos ’n beer met ’n seer tand is wanneer hy beseer is, antwoord Felicity: “Nee, glad nie. Warren is van nature gemotiveerd en positief. Hy is baie doelgedrewe en beweeg gou aan ná teleurstellings. Natuurlik was hy ontsteld en teleurgesteld vir die eerste dag nadat hy gehoor het hy is vir ses weke uit (veral omdat dit nou ’n kritieke tyd is vir die Leeus in hul Superrugby-veldtog). Maar hy het vrede gemaak daarmee en werk so hard moontlik daaraan om te herstel (hopelik gouer as wat verwag word). Ek glo en vertrou hy sal genees en sterker terugkom as voorheen.”

Terwyl Warren herstel, beplan hulle om vir ’n naweek bietjie weg te gaan met hul dogtertjie. Hulle hou van braai saam met vriende, om saam met familie te kuier en om net te ontspan by die huis saam met Ava.

Warren, Felicity en Ava Whiteley.

Warren, Felicity en Ava Whiteley.

 

SARIE het ook met ’n paar ander sporthelde se vroue gepraat oor hoe hulle hul mans ondersteun. Die artikel deur Marguerite van Wyk het in September 2015 verskyn.

In dié artikel sê Pat Lambie, veelsydige agterspeler vir die Haaie en die Springbokke, se vrou, Kate:

“Natuurlik is dit vir hom ’n teleurstelling as hy beseer is en nie kan speel nie. Ek probeer dan maar altyd ’n glimlag op sy gesig sit en gee hom soveel liefde moontlik om te wys ek ondersteun hom.

“As Pat by die huis is, maak ons die beste van ons tyd saam: ons kook, draf af en toe, en gaan ook saam branderry. Ek het selfs al ’n keer of wat saam met hom gholf gespeel.”

Kate en Patrick Lambie.

Kate en Patrick Lambie.

 

Pieter-Steph du Toit, Stormers- en Springbok-slot, se vrou, Willemien, sê:

“As hy so baie beseer word, raak hy soms moedeloos. Dan neem ons dit dag vir dag, praat moed in. Ek sê altyd vir hom dit help nie jy is hartseer oor iets wat reeds gebeur het nie, jy kan niks daaraan doen nie. Nou moet jy vorentoe kyk. Vir inspirasie kyk hy motiveringsvideo’s en ek herinner hom gereeld daaraan dat ons so baie het om voor dankbaar te wees. Ek doen graag dinge saam met hom. Hy is my sagmoedige reus wat nie maklik kwaad word nie.”

Pieter-Steph en Willemien du Toit.

Pieter-Steph en Willemien du Toit.