FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

Het jy gehoor?

Hennie en Jacobu: Langafstand-liefde

Hulle woon 556 km uitmekaar, hy op Willowmore en sy op Somerset-Wes. Maar nie een is bang vir langafstand-liefde nie. Inteendeel, boer Hennie en Jacobu pak die liefde met al sy uitdagings ywerig aan, want as dit jou eers beet het los dit jou nie sommer nie. 

Boer Hennie het behoorlik sy hart verloor op die pragtige onderwyseres Jacobu, wat oorspronklik vir boer Arno van Newcastle in KwaZulu-Natal ingeskryf het. Maar Arno wou net vriende wees. En toe die Boer soek ’n vrou-reeks eindig, het die liefde tussen Hennie en Jacobu stadig begin blom. Nou is dié twee ’n paartjie!

SARIE het in Januarie ’n video gedeel oor hoe Hennie (letterlik) val vir Jacobu. Dit het soos ’n veldbrand versprei en is meer as 2 000 keer op Facebook gedeel! Lees die eerste storie hier.

FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

Met Februarie hier het ons ’n bietjie gaan inloer by dié oulike paartjie. Dis immers die maand van die liefde!

Boer Hennie het spesiaal ons vrae beantwoord.

1. Die video oor julle twee het viral gegaan en mense is so bly julle is saam. Het julle die reaksie verwag?

Ons was maar in die begin skrikkerig vir die mense se reaksie. Ons het glad nie verwag dat so baie mense saam met ons bly sal wees nie. Ek en Jacobu is bly die waarheid is uiteindelik uit. Nou kan ons met gemak ons lewe geniet.

2. Langafstand-liefde kan uitdagings inhou en as paartjie moet julle ekstra hard werk. Wat het julle in die proses geleer is belangrik? Enige raad vir paartjies wat dieselfde paadjie stap?

Dit is belangrik om eerlik te wees oor hoe jy voel. Ek en Jacobu is nou op ’n plek in ons lewe waar ons nie mekaar se tyd wil mors nie. Ons probeer regtig elke moontlike geleentheid vir saamwees benut. Die afstand gee ons ’n wonderlike geleentheid om te groei in ons verhouding, want jy kan nie soen oor ’n telefoon nie. Dit dwing ons om te praat en op hierdie manier leer ons mekaar beter ken en verstaan.

’n Wenk vir paartjies wat dieselfde pad stap, is om nie mekaar se vryheid te steel nie. Gun mekaar die vryheid om steeds dinge alleen te doen saam met vriende en familie, al is jy nie by nie. Maar waardeer elke oomblik saam.

3. Het julle enige planne vir Valentynsdag? Iets wat julle kan deel …

Op die oomblik is Valentynsdag net nóg ’n dag om liefde te betoon. Natuurlik sal ’n romantiese uitstappie wonderlik wees, maar hierdie afstand gaan dalk net ’n oproep toelaat. So ons vier sommer elke dag Valentynsdag as ons mekaar sien. Al is dit nou oor ’n koppie koffie by ’n oulike plek of selfs net by ’n uitkykpunt. Ek voel dis belangrik om mekaar spesiaal te laat voel en moeite te doen.

4. Met watter gereg kan iemand jou omkoop? 

Iemand kan my omkoop met sushi, ons kry dit nie hier op Willowmore nie. En Jacobu kan omgekoop word met roomys.

FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

 Lees nou

Veral dié woorde word verkeerd gespel

Sienna Miller se ma is … Afrikaans!

Ons is opgewonde oor Wessel Pretorius