Hennie Jacobs
Het jy gehoor?

Hennie Jacobs se prinsesse het sy lewe verander

Die akteur en sanger Hennie Jacobs, ook bekend as Diederik in 7de laan, sê hy het nou al gewoond geraak aan al die pienk in die huis vandat hy en sy vrou twee dogtertjies gekry het.

Hy gesels met SARIE.com oor ouerskap, sy planne vir 2014 en sy gunstelinge vir dié jaar se Oscars.

Ouerskap is ’n leefstyl

Hennie en sy vrou, Marissa, se twee dogters, Nua (3) en Tali (10 maande), het hom ’n nuwe uitkyk op die lewe gegee.

Hennie by Tali en Nua. FOTO: Twitter

Hennie skeer gek saam met Tali en Nua. FOTO: Twitter

“Ek dink babas, veral dogtertjies, maak jou sagter. Jy sien nie meer net jouself of jou vrou nie. Dis ook nie soos die goudvis wat jy elke dag gevoer het nie, dis nou jou verantwoordelikheid,” sê Hennie. Hy reken ouerskap word soos ’n leefstyl. “En dis ongelooflik om dit elke dag te ervaar.”

Hennie gesels oor 7de laan

Hy reken die geheim is om reeds vandat jou kinders babas is met hulle te kommunikeer soos met grootmense.

“En as jy hulle reg grootmaak, sal dit hopelik nie nodig wees om hulle eendag terug te hou nie. Dan kan hulle self die wêreld sien en daarin leef.

Klaar bekommerd oor hul tienerjare

“Maar ek raak nou al bekommerd oor wat ek gaan doen wanneer hulle 16 is. Ek sal ure in die gim moet bly of ’n tatoeëermerk op my gesig moet kry.

“Elke oggend wanneer ek na hulle kyk, moet ek vra of ek hulle pa is, want hulle is net té mooi,” skerts hy verder.

Nog 7de laan-sterre se babas

Hulle leer jou

Hennie glo hy het by sy twee dogters geleer om met ander oë na die wêreld te kyk omdat hulle alles met soveel vreugde en vertroue sien. Hy vertel dat Nua en Tali altyd opgewonde is om hul pa te sien.

Hennie by sy jongste dogter, Tali. FOTO: Twitter

Hennie by sy jongste dogter, Tali. FOTO: Twitter

“Dit leer jou onbaatsugtige liefde,” voeg hy by, terwyl Nua vra om op die springmat te gaan speel.

Slaaptyd is storietyd

Hennie lees elke aand vir Nua 'n storie voor sy gaan slaap. Sy word volgende week vier. FOTO: Twitter

Hennie lees elke aand vir Nua ‘n storie voor sy gaan slaap. Sy word volgende week vier. FOTO: Twitter

 

Wanneer dit slaaptyd is, sit Marissa vir baba Tali in die bed terwyl Hennie vir Nua, wat volgende week vier word, uit ’n boek met klassieke stories in Afrikaans lees voordat sy droomland toe gaan.

“Ons wil hulle die beste toekoms gee wat ons kan. Ons is só geseënd met ons twee prinsesse en baie gelukkig in ons gesin.”

Planne vir 2014?

Hy neem tans vier nuwe liedjies op vir sy volgende album, wat ook van die vorige album se treffers gaan bevat. Intussen werk hy ook aan drie toneelstukke vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Hy gaan in Die buite-egtelike oupa, Boeing Boeing (saam met onder andere Heino Schmitt) en Kysbriewe (saam met Diaan Lawrenson) te sien wees.

Kyk hier na Hennie, wat verlede jaar vir ’n Royalty-sepietoekenning benoem is, se musiekvideo vir “Soen”.

Oscar-voorspelling

Met die Oscar-benoemings wat dié week bekend gemaak word, sê Hennie sy gunstelinge om hierdie jaar die toekenning vir beste akteur te wen, is Leonardo DiCaprio vir Wolf of Wall Street en Matthew McConaughey vir Dallas Buyers Club.

Leo was byna haaikos in SA

“Hulle is albei onderskatte akteurs, veral Leo wat al soveel keer benoem is, maar nog nie die Oscar gewen het nie,” sê Hennie, wat ook mal was oor verlede jaar se Django Unchained met Jamie Fox en Leonardo DiCaprio.