Het jy gehoor?

Herman Lensing, SARIE se nuwe kosredakteur

Barbara Joubert het só besig geraak met die gewilde SARIE KOS dat ons ’n nuwe kosredakteur vir SARIE self aangestel het: Herman Lensing. So sal albei SARIE-lesers op ’n eie wyse inspireer − en soms sal hulle dit saam-saam doen!

HERMAN
Waar het jy leer kook?
Solank ek kan onthou, het ek saam met my ma in die kombuis, op ’n stoel, gestaan en kook. Ná matriek op Upington het ek my as sjef by die Institute of Culinary Arts op Stellenbosch bekwaam. Ek het by die Ile de Pain-bakkery op Knysna gewerk, toe in ’n paar restaurante en uiteindelik het ek kosstilering begin doen.

Waarna kan SARIE-lesers met jou as kosredakteur uitsien? 
Ek wil lesers nuwe geheimenisse van kos leer. Ek’s mal oor klassieke kos, soos bobotie en koeksisters. Ons gaan dit herbesoek en nuwe lewe gee.

Wat is altyd in jou yskas?
’n Baie groot plak sjokolade! Daar is niks so lekkers as om net ná drie in die oggend in die helder lig van die yskas te staan en byna skelm aan ’n stukkie sjokolade te eet nie. Dis hoe ek dink die hemel gaan lyk!

Sonder watter bestanddeel kan jy nie kos maak nie?
Suurlemoen. Die geur bring soveel balans in kos. Daar is iets byna nostalgies aan die reuk van gekneusde suurlemoenskil.

Kook jy by die huis ook?
Ek is mal oor vars produkte en om te kook met die beste van die seisoen. My gunsteling is ’n sampioen-risotto of vanielje-ryspoeding.

Jy’s blykbaar ’n boffin met die Franse lekkerny macarons?
Die obsessie het begin met ’n klein boksie vol van dié juwele uit Frankryk. Dit was liefde met die eerste oogopslag. Ná baie mislukte probeerslae het ek dit eindelik reggekry. Die sleutel lê in die hoeveelheid amandels . . .

In die November-uitgawe, vanaf 12 Oktober te kry, kook Barbara en Herman saam. Moet dit nie misloop nie!

  • Heidi

    Vir lank het ek nie die Sarie gekoop wel die Sarie Kos. Duidelik het die jongeman ‘n passie van kos, so die Sarie sal weer haar pad vind elke maand in die kostrollie. Dit is aansteeklik.

  • Sankie Mostert

    Ek wil net iets uitklaar in Sarie kos vir mans
    Sover ek weet is t-been Sirloin en fillet
    Ek het nog nooit gehoor van rib-steak nie

  • Maryke van SARIE

    Hi Sankie. Herman sal sommer direk vir jou sy bron per e-pos stuur. Groete!

  • Herman van SARIE

    Hi Sankie. T-been sit tussen die ‘rib-eye’ en die ‘sirloin’, daar is egter ‘n klein verskil in hoe steak in verskillende lande gesny word, en wat dit genoem word, so word filet in Amerika gewoonlik ‘tenderloin’ genoem.

  • Surida de Jager

    Terwyl ek op die stoep by my ouers se huis in die karoo sit tel ek die Sarie op begin te lees…(dis effens vreemd vir my siende dat ek nie myself binne die sarie-leser ouderdomsgroep plaas nie) Herman jou eclairs in September se uitgawe het my sommer weer lus gemaak vir my eie kombuis. So ‘n mooi man in die kombuis is werklik ‘n "inspirasie"Sarie.

  • uZC3Jr reuhncwzvyyh, [url=http://ikcvcvqbtzsu.com/]ikcvcvqbtzsu[/url], [link=http://jqlimwexgyup.com/]jqlimwexgyup[/link], http://xtqujgdrpzmh.com/