FOTO: Phyllis Green

Het jy gehoor?

Het jy al jou klavier-storie met Charl du Plessis gedeel?

Oral is ’n storie – selfs in ou klavierstoele. En pianis Charl du Plessis wil jóú verhaal hoor vir sy toer, 10 Steinways, 10 Stede, 10 Solo-konserte.

Hy bring dié toer Sondag na die Musaion by die Universiteit van Pretoria. As deel van dié toer probeer Charl om ander mense se klavier-stories op te spoor én hy soek na ’n kosbare liefdesbrief …

Die storie van dié liefdesbrief begin omtrent 80 jaar gelede toe ’n konsertorganiseerder van Johannesburg verlief geraak het op ’n Britse pianis. Voor sy terugkeer na Londen het die vrou vir hom ’n liefdesbrief in die stoeltjie van sy konsertklavier gelos. Maar die pianis het nooit die brief gelees nie.

“Dis so romanties. Die musiek, die verlore liefde, die misterie. Dit het my laat dink aan al die wonderlike musiekherinneringe van Suid-Afrikaners waarvan ons nog nooit gehoor het nie. Toe besluit ek, ek gaan daai brief ‘soek’,” het Charl vroeër vanjaar aan SARIE vertel.

Om dié mooi verhaal te vier, soek hy ook na mense se musiekstories. “Hoeveel mense is daar nie wat hul eie verhaal het om te vertel nie? Iemand wie se oupa altyd vir hom/haar liedjies gespeel of wie se seun uitmuntend op die klawers presteer het. In die meeste van die stede waar ek gaan optree, is die stadsaal se klavier stokoud. Daar is dalk mense wat al self agter daardie klavier ingeskuif het of kan onthou watter groot kunstenaars daar gespeel het.”

Dié toer het in Februarie in Kaapstad afgeskop en sal in Oktober vanjaar klaar maak met vertonings in onder meer Port Elizabeth, Oos-Londen en Johannesburg. Kaartjies vir die naweek se vertoning in Pretoria is op Computicket beskikbaar teen R120.

Het jy ’n musiekstorie om te vertel? Deel dit met Charl du Plessis deur kommentaar onderaan dié artikel te los.