FOTO: TALENTED MR WILL

FOTO: TALENTED MR WILL

Het jy gehoor?

Só het Suzelle DIY haar verskuilde talent ontdek

Soms kom jy met ’n ompad by jou ware passie uit. Ander tye kom dit eensklaps oor jou pad. Grafiese kunstenaar Julia Anastasopoulos beter bekend as die komiese karakter Suzelle DIY vertel hoe sy haar grootste talent ontsluit het.

Sy, het nooit gedink sy sou mense kon vermaak nie. Nou, ’n jaar nadat sy en haar regisseursvriend, Ari Kruger, ’n bietjie rondgespeel het met hul gesamentlike talente, lag sy breed.

Want danksy YouTube, ’n webtuiste waar mense video’s deel, het Julia met haar Suzelle DIY-handelsmerk die land aan die praat met haar kort, skreeusnaakse doen-dit-self-video’s. Sy kry tot 150 000 klikke per episode. Op 15 Oktober reik sy, as dié gewilde
karakter, ook die boek Suzelle DIY: Die boek* (Human & Rousseau) uit. Suzelle is ook tans saam met Nataniël in die nuwe Checkers-advertensie te sien. “Ons het nog groot drome vir Suzelle,” lag Julia.

“Dit is verbasend hoeveel internasionale selfhelp-ghoeroes duisende klikke op die internet kry. Ons het besef daar is ’n gaping vir so ’n Suid-Afrikaanse karakter. En Suzelle het uitgestaan nadat ons vele karakters op die proef gestel het.

“Ná die eerste episode, ‘Hoe om ’n gat te boor sonder om ’n gemors te maak’, in Mei verlede jaar, was familie en vriende baie positief. Toe ’n Pretorianer oor die ‘braaipastei’-episode [nr. 12] blog, het dit soos ’n veldbrand op die internet versprei en onbekendes het terugvoer begin gee. Iewers doen ons iets reg.”

Suzelle het 60 000 volgelinge op Facebook en 40 000 op YouTube, met 9 400 aanhangers op die visuele sosiale netwerk Instagram.

“Kindertyd het ek graag grappe gemaak. Suzelle het my weer in voeling gebring met my humoristiese kant. Maar dit is nie noodwendig so maklik soos wat dit lyk nie. Dit kos elke week mooi beplanning en heelwat navorsing voor ons verfilm. Ek lees hope selfhelpinternetwebtuises en -boeke om ’n goeie draaiboek te kan skryf.

“Dit het my opnuut gewys werk kan maar pret wees. Trouens, hoe meer jy dit geniet, hoe beter is die eindproduk. Suzelle ontgin my ekstrovert-kant…Ek is bly Ari het my uit my gemaksone geskuif. Só kon ek soveel dinge ontdek. Nou omarm ek die internet omdat ek weet jy kán jou eie werk daarmee skep.

“Nou droom ek en Ari van ’n vollengte-fliek, T-hemde, bekers, wie weet wat als, met haar handelsmerk. Ek het ook die selfvertroue vir ’n Suzelle-eenvrouvertoning, wat hopelik aanstaande jaar op die planke sal wees. Daar is ook ander karakters in die vooruitsig. Die wonder van dié konsep is dat dit organies ontwikkel. Daar is byna nie tyd vir al ons idees nie. Suzelle verstom ons daagliks.”

Suzelle se wenke

  • As jy jou ware talente wil ontdek, kyk wat jou régtig gelukkig maak. Moenie
    luister na ander nie.
  • Stel jouself oop vir nuwe dinge om by jou ware self uit te kom.
  • Visualiseer wat jy wil bereik.
  • Wees doelgerig en lewer gehaltewerk – en jy sal jouself (en die wêreld) verstom.

suzelle diy

Wen Suzelle se boek!

5 lesers kan elk ’n eksemplaar van *Suzelle DIY: Die boek (Human & Rousseau, R325) wen. SMS die sleutelwoord SUZELLE, jou naam, van, ID- en telefoonnommer, e-pos- en posadres na die nommer 32609. (’n Tarief van R1,50 per SMS geld.)

SLUITINGSDATUM 31 Oktober 2015

Wenners sal teen 13 November 2015 in kennis gestel word.

Lees ook