FOTO: United States Department of State

Het jy gehoor?

Hillary Clinton praat oor Bill se affair PLUS só vergewe jy – sielkundige gee raad

Hillary Clinton is een van die magtigste vroue in die wêreld en steeds aktief in die politiek. Maar maak nie saak watter hoogtes sy bereik nie, min mense sal die verhouding wat haar man, Bill Clinton, in 1998 met Monica Lewinsky gehad het, vergeet.

Hillary het verlede week op die radiostasie BBC 4 oor Bill se verneukery gepraat – iets wat sy nie baie doen nie. Sy het op die program Woman’s Hour aan die aanbieder Jenni Murray gesê dat sy haar man, wat ten tyde van die verneukery die Amerikaanse president was, vergewe het, berig The Source.

“Vergifnis is ’n keuse. En ek respekteer ander wat nie hierdie keuse maak nie, vir watter rede ook al, in hul persoonlike en professionele lewens, maar vir my was dit die regte besluit. Vir my – dit is iets wat baie moeilik is – maar ek is elke dag dankbaar ek het dié keuse gemaak en ek het al aan ander raad gegee om te sien of dit iets is wat hulle in hul eie hart ook kan doen. Dit is ook nie toevallig dat al die groot godsdienste en goeie skrywers meen dat die persoon wat vergewe, bevry word nie – selfs meer as die een wat vergewe word.”

Sy het ook gesê sy hou nie ’n wrok teen Monica nie en wens haar net die beste toe.

Hillary Clinton

SARIE het in 2011* met joernalis Marie Opperman gepraat oor hoe sy haar man se jaar lange affair hanteer het. Sielkundige Trix O’Callaghan gee raad en Marie beskryf haar persoonlike reis …

Hoe vertrou ’n mens weer?

Sielkundige: “Die een wat die affair gehad het, moet ekstra moeite doen en die mindere wees. Hy moet jou gerusstel, na jou luister, daar wees vir jou. Jy moet voel dat hy berou het, hy moet jou oortuig dat hy begrip vir jou gevoelens het en verstaan waaroor dit gaan. Hy moenie rasionaliseer oor wat hy gedoen het nie. As hy sê dis jou skuld, hou hy nog die uitgang oop. Hy moet ook die ander vrou heeltemal uitlos.

“As jou man jou verkul het, moet jy hom nie gedurig aanval en slegmaak nie. Daar moet ’n veilige en oop forum wees vir kommunikasie. Julle moet ook albei bereid wees om terug te gaan na die huwelik wat julle voor die affair gehad het. Kyk na watter ander uitgange daar in jul huwelik was, en waaroor julle onveilig by mekaar gevoel het.”

Marie sê: “Ek wonder steeds hoe ek hom ooit weer gaan vertrou – en tog glo ek dat mense berou kan kry en kan verander. Ek weet regtig nie hoe ek hom weer sal kan vertrou nie. Miskien kan hy my nie daarvan oortuig nie. Wantroue kan ongelukkig ’n vernietigende kettingreaksie veroorsaak – hoe minder jy jou maat vertrou, hoe meer stry julle, hoe minder is daar ’n forum vir kommunikasie, en hoe geringer raak die kans om terug te gaan na die huwelik wat voor die affair daar was. Dis waarom huwelike op vertroue en eerlikheid gebou moet wees.”

Hoe vergewe ’n mens? Wanneer weet jy dat jy vergewe het?

Sielkundige: “Vergifnis begin met aanvaarding. Jy aanvaar wat gebeur het, al keur jy dit nie goed of af nie. Dit kan net gebeur as albei partye genoegsaam genees het en as hy in jou onvervulde behoeftes voorsien het, en jy in syne.

“Vergifnis kan nie gedwonge wees nie. As jy nie weet of jy vergewe het nie, sê eerder jy is op pad na vergifnis. Jy sal weet jy het vergewe as jy op ’n dag besef dis verby, dit maak nie meer so seer nie. ’n Mens moet jouself ook eers vergewe. As jy jouself byvoorbeeld nie vir jou affairs vergewe het nie, en nie van daardie deel van jouself hou nie, sal jy jou gevoelens op jou maat projekteer.”

Marie sê: “Ek weet hoe belangrik vergifnis is. Dis sleg vir ’n mens self as jy nie kan vergewe nie; jy moet dit om jou eie beswil doen. Soms dink ek dat ek hom vergewe het, en ander dae is ek weer kwaad vir hom. Dalk werk vergifnis soos baie ander dinge – jy gee ’n treetjie vorentoe, en dan weer een of twee agteruit. Hopelik gaan ek binnekort die punt van volslae vergifnis, sonder enige treetjies agtertoe, bereik. Partykeer wonder ek ook: Is dit dalk makliker om te vergewe wanneer iets, of iemand, nie meer vir jou heeltemal so belangrik is nie?”

*Uittreksel uit SARIE se Februarie 2011-uitgawe

 

 

Koop Marie Opperman se boek ’n Affair om te vergeet HIER.

 

 

 

BRON: The Source