Suid-Afrikaanse akteur Brandon Auret en Matt Damon op die stel van Elysium FOTO: verskaf

Het jy gehoor?

Hollywood op jou voorstoep DEEL 2

Suid-Afrikaners staan vir geen internasionale akteur terug nie. Brandon Auret, Kim Engelbrecht en Fiona Ramsay vertel van hul werk met Hollywood se grootstes.

Brandon Auret

‘Ons hoort in Hollywood’

Suid-Afrikaners sal hom altyd as Duppie van Isidingo onthou, maar Brandon maak deesdae gróót naam. Hy het gespeel in Elysium, District 9 en Catch a Fire. Hy is eersdaags te sien in Tiger House en die nuwe Neill Blomkamp-fliek, Chappie, wat vroeg in 2015 te sien is.

“Al word daar dikwels vir ons gesê ons is nie goed genoeg nie, dink ek die meeste Suid-Afrikaanse akteurs is opgewasse om in Hollywood-flieks te speel. Hulle is net so goed soos die groot sterre. Dis nie arrogant nie; ek  sou mos nie die rolle losgeslaan het as ek dit nie verdien nie,” sê hy.

Brandon (links) op die stel van Elysium, waar hy teenoor swaargewigte soos Matt Damon en Jodie Foster gespeel het FOTO: verskaf

Brandon (links) op die stel van Elysium, waar hy teenoor swaargewigte soos Matt Damon en Jodie Foster gespeel het
FOTO: verskaf

“Ek het gevoel ek hoort op stel saam met bekendes soos Matt Damon en Jodie Foster in Elysium en Hugh  Jackman en Sigourney Weaver in Chappie. Dit was cool, maar ek was nie soseer starstruck nie. Oukei, miskien met Jodie, want ek’s ’n groot aanhanger! Sy’t my eerste kom groet toe ons hare gedoen word,” glimlag hy. “Matt is die vriendelikste, goedhartigste mens wat ek al ontmoet het. Ons het vooraf oor tonele gesels. Ek en  Sharlto het ’n lekker poets met die maak van Elysium op hom gebak: Ons het nagemaakte liggaamsdele en bloed op sy bed in sy woonwa gegooi en toe foto’s vir hom gestuur waarop ons maak asof ons sy drank uit sy yskas drink!”

Hy is dankbaar dat hy ná 22 jaar die internasionale mark kon betree. “Maar ek het hard gewerk en baie opgeoffer. Voor Isidingo het ek tien jaar in musiek- en kinderteater gewerk. Ek voel nou eers ek het ’n  loopbaan.”

Hoe meer plaaslike akteurs in Hollywood bekend word, hoe beter vir ons land en hoe groter die kanse dat meer akteurs erkenning kry, meen hy.

“Dis ons kans om vir die res van die wêreld te wys ons hét wat dit verg.”

Kim Engelbrecht

Voormalige Isidingo-aktrise, Kim Engelbrecht FOTO: verskaf

Voormalige Isidingo-aktrise, Kim Engelbrecht
FOTO: verskaf

‘Wees slaggereed as die kamera rol’

Dié voormalige Isidingo-aktrise verskyn tans op Britse televisie in die reeks Mad Dogs teenoor Marc Warren. Sy’t pas klaar verfilm aan die Amerikaanse TV-reeks SAF3, waarin sy ’n brandweervrou  speel. In September wag ’n rol in ’n Hollywood-rolprent op haar.

“Gewoonlik is die internasionale filmspanne en akteurs nét so vol lof vir ons mense as ons vir hulle. Hulle merk gereeld op hoe mooi Suid-Afrika se landskappe is. Hulle sê aanhoudend hoe beïndruk hulle is met ons harde  werk, entoesiasme, gedrewenheid om lang ure in te sit en ons bereidwilligheid om op te offer om die werk gedoen te kry. Dit maak my trots Suid-Afrikaans,” vertel Kim, wat binnekort in die nuwe Afrikaanse fliek, Konfetti, te sien is.

Sý is weer beïndruk met hoe toeganklik die groot name is.

By Marc Warren op die stel van Mad Dogs FOTO: verskaf

By Marc Warren op die stel van Mad Dogs
FOTO: verskaf

“Marc Warren het my op die Mad Dogs-stel met my selfoon-instellings gehelp. En ek en Danny Trejo het lekker tydens die verfilming van Death Race gesels.”

Sy het ook vriende gemaak met van die filmspanne.

“Met die verfilming van die reeks waaraan ek pas gewerk het, het ek die grimeerkunstenaar raakgeloop wat 20 jaar gelede my grimering gedoen het in my eerste internasionale fliek, Sarahsarà. Ons het soos ou vriende geklets.”

Haar grootste uitdaging op stelle van internasionale produksies is om ’n nuwe aksent te vervolmaak.

“Dit tel baie in jou guns as jy slaggereed is wanneer die kamera rol, goed met ’n regisseur kan saamwerk en tegemoetkomend is. Ons plaaslike akteurs is meer as bevoeg om dit te doen.”

Fiona Ramsay

Fiona Ramsay FOTO: verskaf

Fiona Ramsay
FOTO: verskaf

‘As dialoog-afrigter word jy ’n mentor’

Dié gesoute aktrise en dialoog-afrigter is eersdaags te sien in die nuwe Meryl Streep-fliek, The Giver,  wat einde verlede jaar in die Kaap verfilm is. Sy was ook in rolprente soos The Bang Bang Club, Hotel Rwanda en Country of My Skull en talle oorsese TV-reekse.

“Op stel van The Giver het ek van Meryl Streep en Jeff Bridges tot Taylor Swift en Katie Holmes ontmoet. Jeff is ’n darling en briljant en Meryl ongelooflik. Een keer het ek vir Taylor gesê sy moet seker wikkel voor sy haar vlug verpas. Toe sê sy ewe ek moenie my kwel nie, dis haar eie vliegtuig. Dit hoor jy nie sommer op plaaslike stelle nie!

Kyk solank die lokprent van The Giver

“Hollywood-akteurs werk baie gefokus, maar agter die skerms is die meeste plat op die aarde. Hulle kuier saam met jou omdat akteurs reg oor die wêreld eintlik ’n broederskap het. As dialoog-afrigter werk ek baie nou saam met hulle. Soms gaan hulle nie eens op stel sonder jou nie. Saans berei jy hulle voor vir die volgende dag. Jy word soos ’n mentor, want hulle vra jou uit oor hoe om ’n karakter uit te beeld.

Fiona en Orlando op die stel van Zulu FOTO: verskaf

Fiona en Orlando op die stel van Zulu
FOTO: verskaf

“Soos toe ek Idris Alba se dialoogafrigter was. Dit was ’n hoogtepunt om met hom en Orlando Bloom (in Zulu) te kon werk. Orlando is ’n warm, wonderlike mens. Hy het my uitgevra oor my gunsteling-kos (ek’s ’n  vegetariër) en daar nooi hy my vir middagete met avokado, halloumi en artisjok (my gunsteling) berei deur sy persoonlike sjef!

“Ek en Tim Robbins (Catch a Fire) het saam klubs besoek – hy wou plaaslike musiek hoor.

“En toe ek Jennifer Hudson afgerig het vir Winnie, het sy op my verjaardag twee dansgroepe uit die  gemeenskap gekry om vir my op te tree, ’n koek laat bak én ‘Happy Birthday’ vir my gesing.

“Op internasionale stelle is almal oorweldig deur ons plaaslike talent en professionaliteit. Ek kyk daardie groot stelle so en wens ons het sulke geleenthede gehad. Hier word ons kreatiwiteit dikwels deur begrotings  ingeperk.”

Wat maak ons akteurs so goed? Lees hier meer