sandra_bullok_021_1024x768
Het jy gehoor?

Hollywood-sterre maak beursies oop vir Japan


Sandra Bullock het ‘n ruimhartige donasie van $1 miljoen aan die Rooi Kruis gegee – een van die grootste donasies wat hulle tot dusver ontvang het. Verlede jaar het sy ook $1 miljoen aan Haïti geskenk ná die aardbewing daar.

Die Disney-ster Demi Lovato het $100 000 aan ‘n noodlenigingsfonds geskenk en het al haar aanhangers gevra om dieselfde te doen, al is die skenking hoe klein.  

Lady Gaga het ‘n armband laat vervaardig wat teen $5 te koop is. Haar aanhangers het só binne 48 uur meer as ‘n kwartmiljoen Amerikaanse dollar ingesamel. Die wit-en-rooi armband het die boodskap: “We pray for Japan” in Engels en Japannees op geskryf.

Petra Nemcova, ‘n model wat self die tsoenami in Asië in 2004 oorleef het, het aanhangers gevra om geld in haar liefdadigheidsfonds Happy Hearts Funds in te betaal. Die geld gaan aan kinders wat deur natuurrampe getref word, en in hierdie geval aan die kinders in Japan.  

Ook Charlie Sheen van Two and a Half Men-faam het $7 500 aan Japan geskenk.

En Taylor Swift, Katy Perry, P. Diddy, Justin Bieber, Chris Brown en Kim Kardashian het ook almal oor die ramp in Japan getwiet. Kim het gesê: “Om al hierdie beeldmateriaal oor Japan te sien breek my hart. Help asseblief die mense in Japan deur die Rooi Kruis te ondersteun.”