FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Het jy gehoor?

Hot Schalk Joubert speel saam met Bobby en Zolani by KKNK!

Hy lyk nie net hot nie, sy talent is ook kookwater!

Schalk Joubert, veelbekroonde musikant, wat in 2007 sy debuutalbum Kayamandi uitgereik het, het die temalied vir die TV-reeks Boer soek ’n vrou op kykNET geskryf, vyf komposisies bygedra vir die Nederlandse rolprent Black Butterflies (oor die lewe van die digter Ingrid Jonker) in 2010. En ons eie rock chick, Karen Zoid, het twee van sy liedjies, Shoot the Breeze en Attitude vir Afrika, gesing vir haar CD Terms & Conditions. En só kan mens aangaan …

Die núútste op sy kerfstok: Hy skryf die musiek vir die Afrikaanse rolprent Dis ek, Anna. Dié fliek gaan oor die ernstige tema kindermolestering en is gegrond op die lewe van die skrywer Anchien Troskie.

“Dis ’n uitdagende projek, maar ek geniet dit geweldig. Vervaardiger Niel van Deventer het vir my vrye teuels gegee. Ons het instinktief dieselfde idee oor wat ons wil bereik. Daar rus altyd ’n groot verantwoordelikheid op jou skouers as jy werk met iets (in dié geval ’n boek) wat reeds suksesvol was en dan in ’n ander medium (fliek) verwerk word. Ek probeer orkestrale musiek kombineer met musiek in die boek (van ’n paar dekades gelede). Só wil ek iets vars skep wat die emosies aanraak.”

In Maart, by die Woordfees, tree hy en sy vrou, aktrise en Expresso-aanbieder Vicky Davis (sy is nou op kraamverlof met hul eersteling, Lira) in die Breyten Breytenbach-produksie Katalekte, ’n woord-musiek-show op. Voorlesings is deur onder andere Vicky, die joernalis Toast Coetzer en joernalis-digter Danie Marais en aktrise Nicole Holm. Laurinda Hofmeyr is ook betrokke by die musiek en Ronan Skillen doen perkussie.

Vicky het dié foto's van Lira op Facebook gedeel SKERMGREEP: Facebook

Vicky het dié foto’s van Lira op Facebook gedeel
SKERMGREEP: Facebook

Ek sal nog baie projekte met Vicky wil aanpak, sy is so kreatief. Ek verwonder my altyd aan hoe vinnig sy iets kan skryf en konseptualiseer. Maar op die oomblik is ons grootste ‘projek’ om Lira groot te maak.

- Schalk oor Vicky

Vicky Davis Schalk Joubert op hul troudag verlede jaar FOTO: Verskaf aan SARIE.com

Vicky Davis Schalk Joubert op hul troudag verlede jaar
FOTO: Verskaf aan SARIE.com

Schalk is ook baie opgewonde oor die musikale produksie Al lê die berge nog so blou wat vanjaar by die KKNK te sien sal wees. Bobby van Jaarsveld en Zolani Mahola, hoofsanger van Freshly Ground, Albert Frost, jazz-sanger, asook onbekende talentvolle sangers uit die Oudtshoorn-omgewing sal geleentheid kry om daarin te sing. “Dit sal die parallelle storie tussen blues en die Kaapse ghoema beskryf – ’n reis van twee verskillende musiekstyle wat albei hul oorsprong in slawerny het. ’n Mens het ’n verskeidenheid kunstenaars nodig om dié boodskap oortuigend uit te dra. Dit is ’n voorreg en opwindend om met mense van soveel veskillende genres saam te werk. Dit gaan leersaam wees – die kleur blou kom sterk deur. Die reis van blues vanuit Afrika na die Blue Note Jazz-klub in New York en dan weer terug na eie bodem. Tot in Bloubergstrand.”

Schalk glo daar is net twee soorte musiek op aarde: goed of sleg. “Ek speel enigiets van klassiek tot jazz en rock … Hoewel ek oorwegend baskitaar en kontrabas speel, speel ek soms kitaar, klawers of perkussie. En ek het ook al trekklavier in een van Vicky se ruimtelike teaterstukke gespeel. Musiek bly ’n konstante uitdaging en jy kan altyd meer leer.”

Later vanjaar wil hy hoeka weer sy talent gaan slyp saam met sy band, Schalk Joubert Three Continents Sextet by die die internasionale jazz-fees in Miri, Borneo. In 2012 was hulle een van die hoofgroepe wat daar opgetree het. “Die mense daar is baie ontvanklik vir ons musiek.” Hy vind ook musikale bevrediging deur te werk met musici uit Noorweë, Swede en Amerika.

“My groot inspirasies is die Amerikaanse jazz-meesters Miles Davis, Jaco Pastorius, Chick Corea en die Oostenryker Joe Zawinul.”

Lees nou