Franja du Plessis FOTO: Leana Clunies-Ross

Het jy gehoor?

Top-10 sterre om in 2014 dop te hou

 

Van plaaslik tot internasionaal, akteurs tot sangers en selfs ’n top-model van Suid-Afrika – hierdie 10 sterre beloof om vanjaar gróót dinge te doen!

1. Matthew Mole

FOTO: The Famous Frouws

FOTO: The Famous Frouws

Matthew het verlede jaar geskiedenis gemaak toe sy debuutalbum, The Home We Built, die top-verkoper in die plaaslike iTunes-winkel was. Matthew is die eerste Suid-Afrikaner aan wie dié eer toegekom het. Ons sien daarna uit om te sien wat hy vanjaar gaan aanvang.

2. Vivienne Jolie-Pitt

FOTO: Gallo Images/ Getty Images

FOTO: Gallo Images/ Getty Images

Brad en Angelina se kostelike vyfjarige dogter maak dié jaar haar rolprentdebuut. Vivienne gaan die rol van die jong Aurora vertolk in Maleficent. Die fliek vertel die storie van slapende skoonheid vanuit die bose Maleficent (vertolk deur Angelina) se perspektief. Vivienne is glo gekies om die rol te speel omdat sy die enigste jong aktrise was wat nie bang was vir Angie nie, berig die rolprent-webtuiste IMDB.com.

3. Lorde

FOTO: Instagram (@lordemusic)

FOTO: Instagram @lordemusic

Dié 17-jarige sangeres van Nieu-Seeland – gebore Ella Yelich O’Connor – het die wêreld in 2013 aan haar voete gehad met haar treffer “Royals”. In 2014 gaan sy nie net by die 56ste Grammy-toekennings optree nie, maar sy is ook benoem vir vier Grammy’s. “Royals” is benoem in die kategorieë Record of the Year, Song of the Year en Best Pop Solo Performance terwyl haar CD, Pure Heroine, benoem is as Best Pop Vocal Album.

4. Ivan Botha

FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Ons het Ivan leer ken as Wimpie in die tienerfliek Bakgat. Hy was verlede jaar nog in die derde Bakgat-fliek weer as Wimpie te sien. En in 2014 sien ons hom weer op die groot skerm, dié keer in die nuwe Afrikaanse romantiese komedie Pad na jou hart wat hy ook saam met Donnalee Roberts geskryf en die regie behartig het. Kyk die lokprent hier.

5. Franja du Plessis

FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Leana Clunies-Ross

Juanita du Plessis se 20-jarige dogter is sangeres en aktrise en het rolprentgehore verlede jaar vermaak toe sy die rol van Marna in As jy sing gespeel het. Franja beplan om in die toekoms ’n album saam met haar ouer broer, Ruan, uit te bring – dalk is dit al vanjaar op die rakke!

6. Michael Fassbender

FOTO: Twitter (@CouncelorMovie)

FOTO: Twitter (@CouncelorMovie)

Dié akteur is te sien in groot flieks soos Inglourious Basterds, Prometheus en Jane Eyre. Hy is op die oomblik ook in The Counselor saam met Cameron Diaz, Brad Pitt, Javier Bardem en Penélope Cruz. Ons is egter meer opgewonde oor 12 Years a Slave (ook saam met Brad Pitt) wat dié maand in plaaslike teaters begin draai. Volgens die rolprentkenners kan Michael se vertolking in dié fliek hom dalk net ’n Oscar-benoeming losslaan.

7. Leah

FOTO: Wendy Thomas, ART PHOTO

FOTO: Wendy Thomas, ART PHOTO

Vir Leah, oftewel Leani van Niekerk, was 2013 onvergeetlik – sy het die hoofrol in As jy sing vertolk teenoor Suid-Afrika se liefling, Bobby van Jaarsveld, en het in November met haar universiteitsliefde, Hennie van Niekerk, getroud.

Wat hou 2014 vir Leah in? Sy bring dié jaar haar eerste solo-album met vars, nuwe musiek uit!

8. Shailene Woodley

Die plakkaat vir Shailene Woodley se fliek "The Fault in our Stars".

Die plakkaat vir Shailene Woodley se fliek “The Fault in our Stars”.

Shailene speel al sedert 2008 die rol van Amy in die TV-reeks The Secret Life of the American Teenager. Maar sy het eers toe sy in 2011 saam met George Clooney in The Descendants was, meer beroemd geraak. Dit lyk of Shailene se ster in 2014 selfs helderder gaan skyn – ons gaan haar in flieks soos Divergent, The Spectacular Now en The Fault in Our Stars sien.

9. John Wizards

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

Hierdie musiekgroep uit Kaapstad is besig om internasionale sukses te behaal. Met treffers soos “Lusaka by Night”, “Limpopo” en “Muizenberg” het die groep verlede jaar deur Engeland en Europa getoer. Intussen is hulle een van die groepe wat op 7 Junie vanjaar in Victoria Park in Londen, Engeland by die Field Day London gaan optree.

10. Katryn Kruger

FOTO: Instagram (Katryn Kruger)

FOTO: Instagram (Katryn Kruger)

Op 17-jarige ouderdom was Katryn reeds een van die wêreld se top-modelle. Sy het al saam met modehuise soos Louis Vuitton, Oscar de la Renta, Prada, Dior, Valentino en Givenchy gewerk. Dié Kaapse model het verlede jaar vir prins Harry ontmoet en in 2014 beplan sy om haar internasionale Cambridge-matriekkwalifikasie te behaal. Boonop sien ons Katryn later vanjaar in ’n groot modehuis se foto’s… hou SARIE.com dop vir foto’s!