@thehughjackman

@thehughjackman

Het jy gehoor?

Hugh Jackman kry wéér velkanker-skrik

Hugh Jackman het vir die tweede keer velkankerbehandeling gekry en raai aanhangers aan om versigtig te wees vir die son, berig Huffington Post.

Hugh is dalk die sterk Wolverine in X-Men, maar dié Hollywood-akteur is verlede week vir die tweede keer met velkanker gekonfronteer. Hy moes wéér dokter toe gaan om velkanker op sy neus uit te sny.

Hugh het verlede jaar in November vir dieselfde behandeling gegaan. Die kanker is toe ook op sy neus gevind.

Volgens die internasionale Velkanker-stigting is dié tipe velkanker, basaalselkarsinoom, die een wat die meeste voorkom. Én dit is behandelbaar.

Dié velkanker word gekenmerk deur groeisels op die buitenste laag van die vel en dit versprei selde, maar as dit nie behandel word nie, kan dit lelike littekens los.

Hugh het hierdie foto op sy Instagram-blad gedeel met die onderskrif: “ASSEBLIEF! ASSEBLIEF! DRA SONSKERM!”

EERSTE FOTO: Hugh Jackman in Suid-Afrika

Hugh speel in Chappie, die opspraakwekkende film deur die Suid-Afrikaanse vervaardiger en regisseur Neill Blomkamp. Na verwagting sal dit volgende jaar uitgereik word.

Dra jy genoeg sonskerm?

Die meeste van ons wend nie genoeg sonskerm aan nie!

Dít is volgens navorsing van die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA). Dié navorsing dui daarop dat die meeste van ons net 25% tot 50% van die aanbevole hoeveelheid sonskerm aansmeer. Dit beteken dat as jy slegs die helfte van die regte hoeveelheid SBF 15 aanwend, die waarde van jou SBF na omtrent 5 verminder – dit bied nie naastenby genoeg beskerming nie.

Die volgende dele van jou lyf het elk ’n teelepel sonskerm nodig vir voldoende beskerming: gesig en nek (dit sluit jou oorlobbe in); jou borsgedeelte; jou rug; die agterkant van jou arms; die voorkant van jou arms; die voorkant van jou bene tot op jou voete; die agterkant van jou bene.

Bron: KANSA