Het jy gehoor?

Huldeblyke stroom in vir ontslape SA swemmer

Karen Muir was Suid-Afrika se trots toe sy as 12-jarige dogter die jongste persoon geword het om ’n wêreldrekord op te stel.

Sy is Maandag, op die ouderdom van 60, by haar suster, Liana Barrett, se huis in Mosselbaai oorlede. Sy is in 2009 met borskanker gediagnoseer.

Buiten vir die internasionale sport- en nuusagentskappe wat die nuus van haar dood in verskillende tale getwiet het, het talle ook persoonlike huldeblyke gelewer. Onder hulle is Kirsty Coventry, die Olimpiese swemmer van Zimbabwe, Lewis Pugh avonturier-swemmer, die gholfspeler Gary Player en die Olimpiese swemmer, Ryk Neethling.

Karen Muir huldeblykKaren Muir huldeblykKaren Muir huldeblykKaren Muir huldeblyk

Karen se kinders het die naweek by haar in Mosselbaai gekuier. “Sy het hulle Sondag gegroet. Sy het nog saam met hulle gelag. Gister het sy begin agteruitgaan. Dit was asof sy besef het die geveg is te veel,” het Liana aan Die Burger gesê.

Karen het nie net die rekords in die swembad laat spat nie. Sy was ook ’n mediese dokter wat, volgens haar suster, baie simpatiek teenoor haar pasiënte was.   

Sy kon nooit aan die Olimpiese Spele deelneem nie, weens die sportboikot teen Suid-Afrika in die tyd wat sy deelgeneem het.

Liana het gesê: “Sy is nou op ‘n beter plek, sy het gaan rus.”

HIERONDER is ’n video uit 1969 van een van die geleenthede waarby Karen se talent die wêreld se aandag aangegryp het: