sy klink soos lente
Het jy gehoor?

Hunter van Heuwels se zucchini-wiggies

Ons het Hunter Kennedy leer ken as die alternatiewe rocker in die band Fokofpolisiekar wat Afrikaanse ouers se nekhare laat regopstaan het. Oe, hoe durf die manne so vloek. Siesa! Min het hulle geweet watter impak dié kunstenaar op die musiekbedryf sal hê, want Hunter was van die begin af goed met die pen en het reeds talle lirieke en gedigte geskryf.

Deesdae is hy deel van Die Heuwels Fantasties saam met Sheldon Yoko, Pierre Greeff en Fred den Hartog. En dié band groet 2016 behoorlik met ’n nuwe enkelsnit, “LED Liefde”!

Hunter sê: “‘LED Liefde’ gaan oor verlange. Tydens die feesseisoen is daar baie wat nie by hul geliefdes kan wees nie.”

“LED Liefde” het vinnig sy verskyning op die iTunes-ranglys gemaak en het reeds Jacaranda FM se Top-20 gehaal.

Kyk die musiekvideo hier:

Dié video is deur Ruan Vermeulen vervaardig. Hulle glo hul nuutste liedjie sal baie aanklank vind, want dit het ’n universele tema in die digitale era.

Maar Hunter is ook ’n man wat so dan en wan agter die potte staan as hy nie sing of musiek maak nie. En nou deel hy een resep spesiaal met ons!

Sy zucchini-wiggies maak hy graag as bygereg wanneer hy sy vrou, Nelia, wil bederf.

“Ek het gisteraand vir ons gekrummelde varktjops gemaak met sampioensous en zucchini-wiggies. Dit was nogal lekker.’’ Hy het die resep aanlyn gekry .

“En toe sit ek my eie spin op die gereg.” Net soos Hunter kan – natuurlik!

Hunter se zucchini-wiggies

Hoe maak jy dit?

– Sny die zucchini (murgpampoentjies) in vier skyfies in die lengte — en pak met hul skilkante ondertoe op jou voorbereide oondbak.

– Meng gerasperde parmesaankaas, gedroogde tiemie, origanum en basiliekruid in ’n bakkie. Strooi oor die zucchini volgens jou eie smaak. Hierdie mengsel gee die zucchini ’n lekker brosheid, so ek het sommer baie gebruik.

– Verhit die oond tot 180 grade C.

– Sit die bak in die oond vir 15 minute en daarna nog so 5 minute onder die oondrooster (grill) sodat daai parmesaanmengsel lekker verhit, en siedaar!

Ons gaan beslis “LED Liefde” luister wanneer ons Hunter se resep maak.

“LED Liefde” – Lirieke

ek sien jou net op my skerms
LED liefde is hartseer
ek sien jou net op my skerms
digitale heimweë
eendag as als kalmeer het
vir nou net LED liefde
ons LED liefde
is hartseer

eerlik
in hierdie oomblik
ek wil nie my oë knip
en sien jy het weggeglip

als gebeur so vinnig
so vinnig
jy moet weet
’n mens sou sweer

ek’s nooit by die huis nie
as ek daar aankom slaap jy
soengroet in die oggend
vinnig in die oggend

Lees nou

SARIE se 2016-sterre: vrees moet jou inspireer Laré Birk!

Paartjies, pasop vir 11 Desember …