Die Windpomp FOTO: Facebook

Het jy gehoor?

Ian Roberts en Leandie du Randt in nuwe Afrikaanse fliek

Etienne Fourie (25) se droom om Die Windpomp te maak het byna deur die mat geval toe hy nie finansiering vir dié film kon kry nie. Nou, ná maande se probeerslae, speel groot name soos Ian Roberts en Leandie du Randt in Etienne se rolprent.

Die idee vir dié fliek het begin toe Etienne in sy finale jaar by die AFDA-filmskool ’n kortfliek vir sy eksamen moes maak. Die Amerikaanse rolprentvervaardiger Chris Roland (Hotel Rwanda) was so beïndruk daarmee toe hy die projek geëksamineer het, dat hy sy hulp aangebied het om dié projek in ’n vollengte-fliek te omskep.

Boonop was die kortfilm wat Etienne vir sy eksamen gemaak het, Suid-Afrika se eerste inskrywing by die studente-Oscars.

Aanvanklik het Etienne tonele bygeskryf en verfilm, maar mettertyd het hy en Chris besluit dit sal beter wees om die hele fliek oor te skryf én te skiet. Ongelukkig het van die finansiering in 2011 deur die mat geval.

Armand Greyling, Marga van Rooy en Etienne Fourie FOTO: Facebook

Armand Greyling, Marga van Rooy en Etienne Fourie
FOTO: Facebook

Dit het gelyk asof die projek laat vaar sou word, maar Chris se medevervaardiger, Lee-Ann Cotton (wat al aan groot films soos Richard Gere se Shall We Dance gewerk het), het die Suid-Afrikaanse kunstenaar Anna-Lynne Marais se hulp ingewin. Anna-Lynne het toe by die filmspan aangesluit as uitvoerende vervaardiger en die geld ingevorder wat nog kortgeskiet het.

Gesoute bekendes soos Marga van Rooy, Grethe Fox en Ian Roberts speel teenoor Leandie du Randt, Armand Greyling en Sean-Marco Vorster in dié nuwe fliek.

Ian Roberts VIDEOGREEP: YouTube

Ian Roberts
VIDEOGREEP: YouTube

In Die Windpomp moet die 20-jarige Hendri (Armand Greyling) die vakansie by sy oupa (Ian Roberts) in ’n aftree-oord deurbring. Dis terwyl hy een aand vier figure tot aan die buitewyke van die dorp agtervolg, dat hy die beeldskone Margot (Leandie du Randt) ontmoet. Sy kuier by haar ouma, tannie Marietjie (Marga van Rooy).

Hendri en Margot, ’n ballerina, raak vinnig verlief, maar tannie Marietjie stuur Margot onverwags weg. Wat sal gebeur as Margot skielik terug is op die dorp?

Kyk solank na die lokprent van dié fliek, wat op 25 April uitgereik word.