idols_oudisies_jhb024
Het jy gehoor?

Idols-oudisies in JHB – sarie.com agter die skerms

In die onderdakparkering sing tien meisies “Lean on Me” a cappella. By die ingang van die Sandton-konferensiesentrum in Johannesburg skerm menige hulself teen die ysige reën onder kleurryke sambrele en bibber in die 13 grade-buitelug. Binne sleep tientalle voort in ‘n ry wat teen slakkepas beweeg. Hulle wag vir ‘n stoel om op te sit.

Op die 1 000 stoele wat uitgepak is, sit hoopvolles en wag om ‘n oudisie vir Idols se sesde reeks af te lê. Dis die derde been van die oudisies vir dié gewilde sangkompetisie en die hoeveelheid mense wat in Durban en Kaapstad voor die beoordelaars te staan gekom het, het M-Net se wildste drome oortref.

In Kaapstad alleen het sowat twee keer soveel mense as verlede jaar ‘n oudisie afgelê. En Johannesburg staan nie terug nie: Meer as 2 100 mense het Saterdag geduldig hul beurt afgewag. 

Hierdie jaar is daar minder pranks as in die verlede, sê Ingrid Engelbrecht, publisiteitsbeampte by M-Net. “Ek dink aspirant-sangers sien hoe goed Idols se vorige wenners vaar en beskou dit as ‘n opsie om hul sangloopbaan mee af te skop.”

sarie.com was Saterdag by die oudisies en het die aksie op kamera vasgelê.

As jy dink jy het wat dit verg om Idols te wen, moenie die volgende oudisies misloop nie:

2 Mei by die Boardwalk-winkelsentrum in Port Elizabeth
8 Mei by die Windmill-vermaaksentrum in Bloemfontein

Kyk deur die Kaapse foto-album – só lyk dit in die Idols-oudisiekamer