FOTO: Instagram @bianca_le_grange

Het jy gehoor?

Idols se Bianca le Grange is verlief én verloof!

Ná die “baie seer” is Idols se Bianca le Grange verlief én verloof, vertel die sangeres se ma en agent, Berenice. 

Bianca het vanoggend ’n foto op sosiale media gedeel. Op dié foto word ’n toutjie om ’n man se ringvinger gestrik, met die onderskrif: “Hy het ja gesê!”

Die hand in die foto behoort aan die plaaslike akteur en musikant David Johnson. So Bianca het hóm gevra om te trou?

“Nee, hy het definitief vir haar gevra”, sê Berenice ferm, maar voeg dan laggend by “as hy haar nie gevra het nie, dink ek sy sou hom gevra het.”

He said Yes!!

A photo posted by Bianca Le Grange (@bianca_le_grange) on

David heg waarde aan sekere tradisies: “Hy het eers met ons, die ouers, kom praat … kom vra vir ons seënwens, wat hy gekry het, want ons is baie lief vir hom.”

Die gespierde man van Pacaltsdorp het Bianca voor die einde van verlede jaar die jawoord in die Kaap gevra. Hulle was toe sowat ’n jaar saam, maar ken mekaar heelwat langer: “Hulle was vir ’n lang tyd vriende, maar het ’n jaar gelede ontdek dat hulle meer as vriende is.”

“Bianca is over the moon en stuur vir die hele familie foto’s van die ring aan haar vinger. Dit is iets baie moois wat met my kind gebeur het. Dit is presies wat ’n ma vir haar dogter wil hê.”

Die paartjie, wat nog nie op ’n troudatum besluit het nie, verskil baie van mekaar. “Hy is baie stil en nie so voor op die wa soos Bianca nie,” spot Berenice.

Dan raak die ma skielik ernstig: “Bianca se vorige verhoudings was nie die beste nie. Sy het baie seergekry.”

Maar voor sy die foon op die mik sit, is haar stem gevul met liefde en hoop: “Daai deel van haar lewe is in die verlede en sy wil nou nuut begin. Sy is nou regtig verlief en gelukkig.”