VIA_FB_Inspirasiekos_pre
Het jy gehoor?

Inspirasiekos met SARIE – Episode 16 Melk

Herman besoek Camphill Village, ’n veilige hawe vir mense met intellektuele uitdagings. Hier werk almal saam om gehalte-suiwelprodukte te maak. Hy maak crème fraîche-tamatiesous, ravioli en deel ’n resep vir maklike pasta-deeg.

Inspirasiekos1

 

 

 

 

 

 

Crème fraîche-tamatiesous

As jy eers een keer jou eie tamatiesous vir pasta gemaak het, sal jy dit weer en weer wil doen!

genoeg vir 4

  • 100 ml olyfolie
  • 1 ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 10 ml vars gemmer, fyngerasper
  • 20 ml vinkelsaad
  • 10 tamaties, gehalveer en grofgekap met skil aan
  • 350 g kersietamaties, gehalveer
  • 30 ml rooiwyn-asyn
  • 45 ml Sriracha-sous (Thaise brandrissie-sous)
  • 1 hand vol basiliekruid
  • 250 ml crème fraîche of aangesuurde room
  • 100 g parmesaankaas, vir voorsit

Verhit olie tot warm in groot braaipan. Gooi ui, knoffel en gemmer by. Roerbraai vir 2 minute. Gooi vinkel by en roer deur. Gooi tamaties, asyn en Sriracha-sous by. Verlaag hitte en laat stadig prut terwyl jy elke nou en dan pot roer en tamaties breek met houtlepel se agterkant – die tamaties kook pap en vorm dan sous met al die olyfolie, sowat 10 minute. Verwyder van hitte en roer basiliekruid en crème fraîche by. Geur goed met sout en peper. Plaas gaar pasta of ravioli (sien resep onder) in warm sous en rasper parmesaankaas oor. Sit voor.

Ricotta-ravioli

Dis klein pasta-pakkies met ‘n heerlike kaasvulsel wat jy self maak. Dis ’n ete op sy eie.

4-6 porsies

Basiese pastadeeg

  • 375 g (670 ml) broodmeel
  • 4 eiers
  • 10 ml sout

Meng meel, eiers en sout. Knie vir 8 – 12 minute op ’n meelbestrooide oppervlak of tot elasties. Draai toe in kleefplastiek en laat rus vir 30 minute voor jy dit met ’n pastamasjien uitrol. Volg resep onder verder:

  • 1 ui, fyngekap
  • 45 ml olyfolie
  • 250 g spek, fyngekap
  • 200 g baba-spinasie, grofgekap
  • 400 g ricotta-kaas (sien resep om jou eie te maak onder)
  • 2 ml fyn neut
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit olie tot warm in braaipan en braai ui vir 2 minute. Voeg spek by en braai nog 1 minuut. Voeg spinasie by en roer tot spinasie verwelk het – sowat 2 minute. Verwyder van hitte en krummel ricotta by. Meng neut by en geur goed. Meng al die bestanddele vir die vulsel. Verdeel pasta-deeg in 4 balle. Gebruik ’n pasta-masjien en rol deeg uit tot nr. 2 op masjien, of rol dit met ’n koekroller uit tot 1 mm dik. Plaas velle pasta op skoon werkvlak wat met meel bestrooi is. Skep eetlepels vol van vulselmengsel op twee van die pastavelle, so 2 cm uitmekaar. Gebruik kombuiskwas en verf rondom vulsel met koue water. Plaas tweede vel pasta bo-op elk en seël vulsel tussen velle pasta. Gebruik ’n skerp mes en sny pasta-porsies in netjiese sirkels. Bring ’n pot water tot kookpunt en gooi pasta in kookwater – verwyder pot van hitte en laat staan vir 3 – 5 minute of tot pasta gaar is. Dreineer. Skep in warm tamatiesous. Sit voor

Tuisgemaakte ricotta

Dis maklik om jou eie kaas te maak!

genoeg vir 250 g

  • 500 ml volroommelk
  • 250 ml room
  • 5 ml sout
  • 30 ml suurlemoensap
  • varsgemaalde swartpeper

Plaas ’n vergiettes wat met melkdoek (moeselien) uitgevoer is in ’n glasbak. Bring melk, room en sout tot kookpunt in ’n middelslag-pot terwyl jy roer. Voeg suurlemoensap by en meng. Verwyder van hitte en roer tot mengsel skif. Laat staan vir 5 minute. Gooi mengsel deur melkdoek sodat die wei kan afloop. Meng peper by en bind die doek stewig vas. Laat oornag oor ’n glasbak in yskas hang om kaas ferm te maak.

Ispirasiekos2

 

 

 

 

 

 

 

 

5-minuut-resep:

Gebraaide perskes met jogurt

genoeg vir 4

  •  115 g (125 ml) botter
  • 100 ml heuning
  • 100 g (125 ml) sagte bruinsuiker
  • 10 ml vanieljegeursel
  • 4 perskes, gehalveer en ontpit
  • 250 ml dubbeldik jogurt

Verhit botter in groot braaipan tot warm. Gooi suiker, heuning en vanielje by en roer oor lae hitte tot goue karamel vorm – sowat 5 – 8 minute. Pak perskes met gesnyde kant na onder in warm karamel en braai vir twee minute. Skep versigtig uit warm karamel op opdienbord en gooi karamel wat in pan agterbly ook oor perskes. Skep jogurt oor en sit voor.