karoo-bokke-570x379
Het jy gehoor?

Inspirasiekos met SARIE – bokmelkkaas op Loxton!

Die Karoo is vol verrassings en beslis ’n plek wat gou in jou hart kom sit. Met die kenmerkende geur van Karoobos en gasvryheid oorrompel dié wêreld jou soos die warm liefde van ’n ma. 

Hy veroorsaak dat jy verlang, hy maak jou verlief en hy maak jou trots op sy mense. Ry jy verby Loxton, kan jy dit dalk miskyk as jy jou oë twee keer knip. Maar as jy daar stilhou, wag ’n wêreld van geur en smaak jou in.

Dis hier tussen die verlate vlaktes en Karoobos waar die storie van bokmelkkaas vir my wag. Jan Wiese is passievol oor die Karoo en sy bokke. Hy borrel van entoesiasme as hy eers vir jou begin vertel van dié unieke boerdery.

1D0A0178-570x380

Jan, waar kom jou liefde vir bokke vandaan?

As kind het my oupa Jan bokke gekry om die hanslammers op te pas en saam met hulle veld toe te gaan. Ek het die bokke oorgeneem en later begin handel dryf met die diere. My oupa het so vir my basiese sakebeginsels geleer, asook ’n liefde vir die bokke gekweek.

Waarom is jy so lief vir die bokke?

Die bokke word met die hand grootgemaak. Hulle word van kleins af met die hand gevoer en jy leer ken elkeen persoonlik. Bokke is baie liefdevolle diere.

Wat maak bokmelk so uniek?

Die melk is hoog in bottervet en daarom perfek vir kaasmaak. Enige kaasmaker wil melk gebruik wat hoog is in vet – ons weet mos dit smaak lekker. Die Karoo is bekend vir skaapvleis, maar dis net so ’n goeie plek om bokke groot te maak. Hulle is gelukkig hier.

Waar kan ons jou produkte koop?

Die kaas is oral beskikbaar en jy kry dit by die meeste supermarkte soos Checkers en Food Lover’s Market. Ons eksperimenteer op die oomblik met nuwe produkte, onder meer bokbotter.

Bokbotter?

Die smaak is uniek en dit is regtig heerlik om mee te kook. Omdat die melk so ’n hoë vetinhoud het, maak dit uitstekende botter. Dis spierwit en regtig heerlik op tuisgebakte brood!

Sommige mense is bang vir die sterk smaak van bokmelk.  Is daar van die kase wat minder na bok smaak?

Kyk uit vir produkte soos ons sagte bokmelkkaasballetjies wat in knoffel en kruie gerol is. Die tekstuur is hemels en die kruie balanseer die smaak perfek. Probeer dit!

Is die melk van bokke gesond?

Ja, absoluut! Bokmelk word dikwels deur dokters aanbeveel vir moeders wat nie kan borsvoed nie of kinders wat allergies is vir laktose.

 

1D0A0086-570x320_1

Tarte Tatin met uie en bokmelkkaas

Die onderstebo-tert, wat eintlik die eerste keer ’n flop was, is vandag die wêreld oor gewild.

genoeg vir 4

• 30 ml botter
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 60 ml balsemasyn
• 30 ml tiemie, gekap
• 400 g uie, in 1 cm-dik skywe gesny
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 200 g bokmelkkaasballetjies, gerol in kruie (kyk by kaasrak in jou supermark)
• 100 g okkerneute
• 1 x 500 g-rol blaardeeg
• vars basiliekruid vir voorsit

Verhit die oond tot 180 °C. Verwarm die botter in ’n middelslag-pan, voeg die knoffel by en roerbraai sowat 5 minute tot dit begin verkleur. Voeg die asyn en tiemie by. Braai nog 5–8 minute of tot die asyn met die helfte weggekook het. Plaas die uie in die pan en braai nog 5 minute. Geur goed met sout en peper. Skep die uiemengsel in ’n oondvaste bak van 30 x 20 cm wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Dreineer kaasballetjies en pak tussen die uie. Sprinkel neute oor. Rol die blaardeeg bo-oor en druk stewig vas. Bak 20–30 minute of tot goudbruin en gaar. Laat 5 minute rus. Plaas ’n opdienbord bo-op die kors en draai dit saam met die pan vinnig om. Lig die pan af en garneer die tert met vars basiliekruid.

 

1D0A0096-570x320

Taboeli-slaai

In Noord-Afrika staan die slaai ook bekend as tabbouleh. Graan is ’n goedkoop manier om baie monde te voed.

genoeg vir 12

• 250 g Bulgaarse koring (kyk by gesondheidsafdeling)
• 250 g pêrelgort (pearl barley)
• 250 g koeskoes
• 1 groot hand vol Italiaanse pietersielie
• 1 hand vol kruisement, gekap
• 2 rooi-uie, fyngekap
• 300 g kersietamaties, gehalveer
• 5 wortels, in blokkies gesny
• 1 komkommer, in blokkies gesny
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 4 wiele bokmelkfeta

Sous

• 100 ml olyfolie
• 30 ml heuning
• sap en skil van 1 suurlemoen
• 30 ml korrelmosterd

Plaas Bulgaarse koring en sowat 500 ml water in ’n pot. Bring tot kookpunt en kook
tot al die vloeistof geabsorbeer is, sowat 10 minute. Hou eenkant. Plaas gort en 750 ml water in ’n pot. Bring tot kookpunt en kook tot gort sag is, 15 – 20 minute. Dreineer en hou eenkant. Gooi 250 ml kookwater oor koeskoes en laat staan 10 minute. Roer los met vurk en voeg gaar koring en gort by. Meng deur en hou eenkant. Voeg res van bestanddele by koringmengsel.

Maak sous Meng alles, gooi sous oor die slaai en meng deur. Breek feta in groot stukke en voeg by die slaai. Geur goed met sout en peper. Sit voor.

Oondgebakte bokmelkkaas-hoender

Die kaas onder die hoender se vel maak dit sappig en geurig. Min bestanddele, maar geurige eindresultaat.

genoeg vir 4

• 2 uie, ringe gesny
• 200 g sagte bokmelkkaas (chevin)
• 1 groot hoender
• 250 ml witwyn
• sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 200 °C. Pak uieringe in oondroosterbak. Maak vel op bors van hoender los en druk die kaas onder die vel in. Bind hoender se bene vas met kombuistou. Plaas op gesnyde uie. Geur baie goed met sout en peper. Gooi wyn oor en maak hoender toe met foelie. Rooster vir 40 minute. Maak foelie oop en rooster nog 30 minute of tot hoender goudbruin en gaar is. Sit voor met slaai.

1D0A0107-570x320

Bokmelkkaas-patee met papierbrood

genoeg vir 4

Patee

• 300 g sagte bokmelkkaas
• 200 g roomkaas
• 3 takkies tiemie, fyngekap
• gerasperde skil van 2 suurlemoene

Plaas alles in mengbak en klits op hoë spoed tot lig en sag. Sit voor met papierbrood.

Papierbrood

genoeg vir 8 brode

• 280 g (500 ml) koekmeel
• 125 ml water
• 30 ml olyfolie
• 5 ml sout

Verhit oond tot 220 ˚C. Plaas al die bestanddele in ’n mengbak en knie tot ’n ferm deeg met ’n gladde voorkoms. Verdeel deeg in 4 ewe groot balle en laat rus vir 5 minute. Bestrooi werkvlak met ’n dun lagie meel en rol elke bal deeg papierdun uit. Plaas op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is en bak vir sowat 5 – 8 minute of tot goudbruin en krakerig