FOTO Twitter

FOTO Twitter

Het jy gehoor?

Ivor Price oor sy laaste dae by SAUK

*Jongste nuus via Netwerk24: Ivor Price is net ná 13:00 vandag van die lug gehaal en hy is meegedeel vanoggend was sy laaste Monitor-gesprek. Hy sal ook nie meer op die TV-nuus wees nie. Hy word nog tot 5 Augustus betaal wanneer sy kontrak verstryk. Lees meer op Netwerk24.

Ivor Price het gister sy bedanking op Twitter aangekondig en getwiet dat hy geen onderhoude oor dié besluit gaan toestaan nie. Intussen het hy wel vanoggend (voordat die SAUK hom uit hul gebou geskop het) per e-pos met SARIE.com gepraat.

SARIE: Jy het uit alle oorde ondersteuning op Twitter gekry oor jou bedanking. Het jy dit enigsins verwag?
Ivor:
Sjoe, ek is stomgeslaan deur die ongelooflike ondersteuning uit alle hoeke van die land. Ek’t letterlik Dinsdagmiddag twee-uur my foon op “silent” gesit, want dit het ná die eerste Netwerk24-berig nog nooit ophou biep nie. Kort-kort is daar nog ’n SMS. Nog ’n Whatsapp. Nog ’n kennisgewing op Facebook of ‘n Twitter-briefie.

Twitter het gisteraand laat weet ek’t ge-trend – en my Facebook-blad (fb.com/ivorprice) kreun van al die boodskappe. Dis ’n geweldig emosionele ervaring. As uitsaaier weet jy mos nooit regtig watter impak jy op mense se lewens het nie. Dit is nie net ondersteuning vir my nie – inteendeel, ek wil nie ’n martelaar vir persvryheid wees nie. Dis dalk eerder ook erkenning aan die afgedankte SAUK-joernaliste en die groter span wat ten spyte van baie druk steeds daagliks gehalte-nuusprogramme op die lug kry.

Ivor, jy is nog tot 5 Augustus by die openbare uitsaaier. Hoe gaan jy hierdie laaste paar dae aanpak?
Radio en TV is ’n honger medium, veral radio. Ons klok soggens vyfuur op kantoor in, en teen die tyd dat ek ná middagete van my rekenaar opkyk, was daar ’n paar miljoen gedagtes en woorde wat verbygeflits het. Ons is ’n klein span en daar’s nie tyd vir hanna-hanna nie. Dit maak dinge makliker, want die dae is ontsettend besig.

In jou onderhoud met SARIE (Jan 2016) praat jy van die raad wat Amoré Bekker jou gegee het oor kommentaar op sosiale media. “Oppas vir sosiale media. Moenie dat die positiewes na jou kop toe gaan nie, net so met die slegstes. As enigiets jou bly of hartseer maak, beteken dit jou balans is uit, hier binne jou.” Hoe hou jy daardie raad nou steeds in gedagte?
Amoré se raad is steeds uiters waardevol. Ek dra dit elke dag in my binneste saam. Eintlik is alles vlietend. Dis maar die aard van sosiale media. Môre, oormôre spring almal weer op die bandwagon oor iets anders. ’n Bom elders in die wêreld. ’n Atleet se goeie prestasie. ’n Kind met ’n aangrypende storie.

Wat is die belangrikste beginsel in jou lewe?
Ek was ’n kind in die tagtigs. Ons het eers in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte gebly, en naby ons huis was die woorde “An injury to one is an injury to all” op ’n muur gegraffiti. Ek is omdat jy is. Dis vir my belangrik om my deurentyd in ander se skoene te probeer plaas. Ons skree te veel op mekaar en probeer nie hard genoeg om mekaar te verstaan nie.

In sy Twitter-aankondiging gister het Ivor volgelinge verwys na ’n meningstuk wat hy geskryf het oor sy redes vir die drastiese stap.


In dié stuk op Netwerk24 sê hy dat sy bedanking nie verband hou met die afdanking van 8 joernaliste by die SAUK nie, maar eerder dat die situasie by die openbare uitsaaier vir hom onhoudbaar geword het.

“Op die eerste bladsy van my aanstellingsbrief word groot gewag gemaak van waardes wat die SAUK nastreef: Praat, luister en hoor; integriteit; uitnemendheid en koestering van diversiteit. In die laaste paar weke kon ek geen bewyse vind dat dit hoegenaamd die geval is nie.” Hierdie situasie het gemaak dat hy besluit het om ’n ander werkaanbod te aanvaar.

Ná sy aankondiging gister het dit op Twitter behoorlik gegons soos mense op hierdie nuus gereageer het. Gewone mense en bekendes het ook hul stem laat hoor. Daar was boodskappe van bemoediging vir dít wat voorlê en bewondering vir sy deursettingsvermoë en manhaftigheid om by sy beginsels te hou. Ander mense het hul hartseer uitgespreek omdat hulle Ivor se stem nie meer op RSG gaan hoor nie. Dowwe Dolla, Lizz Meiring en die skrywer Harry Kalmer was onder andere deel van die gesprek wat gemaak het dat Ivor Price gister op Twitter ge-trend het. In sy boodskap het Koos Kombuis gesê: “RADIO SONDER GRENSE WORD RADIO SONDER MENSE!!”