FOTO Fanie Cronjé

FOTO Fanie Cronjé

Het jy gehoor?

James Small en Christina Storm se Ruby toor in die kombuis!

Eers was daar Kokkedoor, toe Koekedoor en nóú Kokkedoortjie! En eers was daar James Small, toe Christina Storm en nou is daar klein Ruby Small.

Ruby het gister haar oudisie afgelê om ʼn deelnemer te wees aan Kokkerdoortjie, kykNET se nuutste weergawe van die Kokkedoor/Koekerdoor-franchise. Hier gaan kinders tussen die ouderdom van 9 en 13 wys watter heerlike geregte hulle in die kombuis kan optower.

FOTO Fanie Cronjé

FOTO Fanie Cronjé

 

Uit talle inskrywings van die hele land oor gaan daar uiteindelik net 10 gekies word vir die program. En die proses is taaier as ’n toffie!

Die kinders moes kolwyntjies bak en dit na die oudisie bring en daaroor gesels vir die eerste ronde. As hulle dít deurkom, gaan doen hulle ʼn kooktoets. Daar word gekyk of deelnemers bv. ʼn mes reg vashou, hoe hul kosmaak-vernuf is en hoe veilig hulle in die kombuis werk. As ʼn finalis dié stap ook slaag, kom daar ʼn kameratoets. Dít sal help bepaal watter 10 kinders uiteindelik in die Kokkedoortjie-kombuis gaan toor!

Ruby (12) is een van die hoopvolles wat ingeskryf het. Sy is die dogter van die oud-Springbok en rugby-ikoon James Small en model Christina Storm. Ruby het gekies dat haar pa by haar moet wees as sy uiteindelik een van die Kokkedoortjies is. ʼn Naby familielid van elke deelnemer is betrokke by die kompetisie en moet binne oogafstand van die kind bly. Die familielid mag nie ’n professionele sjef wees nie. Hulle sal deel wees van die program.

Ruby is van vroeg af reeds bedrywig in die kombuis.

“Ek was baie klein toe ek en my ma begin koek bak het, ek is baie lief daarvoor. Ek moet my ma by my hê as ek bak en my pa by my as ek kook,” vertel sy aan SARIE.com.

Ruby se pa maak seker dat sy dogter kreatief grootgemaak word. James, wat vandag ʼn argitek in Johannesburg is, het toegelaat dat Ruby haar eie kamer ontwerp.

“My pa hou daarvan om huise af te breek en huise te bou. Hy het my gevra waar ek die venster in my kamer wil hê en ons het toe saam daaraan gewerk.”

Christina beaam: “James het amazing idees en is baie goed in wat hy doen. Hy en Ruby is baie slim. Hy het Ruby haar eie kamer laat ontwerp in ’n nuwe huis wat James gebou het en waar hulle nou woon.”

FOTO Fanie Cronjé

FOTO Fanie Cronjé

En hoe het dit gebeur dat Ruby deelneem aan Kokkedoortjie?

“My aunty Willemien (Christina se suster) het gesê dat ek moet inskryf. As ek nie inkom nie, sal ek oukei wees. Maar as ek inkom en wen, sal dit awesome wees.”

Of die vraag of Ruby al weet in wie se voetspore sy gaan volg, het sy net geantwoord: “Ek weet nog nie. Ek het baie idees. Ek sal daarvan hou om argitek te wees. Miskien model. Ek is baie lief vir ontwerp.”

Ruby se sussie, Erin, het haar by die oudisie kom ondersteun. Erin is so oud soos Ruby en hulle gaan saam skool by St Stithians College in Johannesburg. Sy is die dogter van Christina se man, Paul Nel, uit sy eerste huwelik. Hy en Christina het dan ook die klein Evie Storm Nel.

Christina se groot nuus

Christina is swanger met haar en Paul se seuntjie wat vroeg in Desember verwag word.

“Ek lê laag. Ry die kinders skool toe. Vat dit rustig. Dit is baie lekker. Ons bly in Melville en ek chill,” sê die stralende Christina (42).

“Op 36 was ek so angstig oor my ouderdom. Maar ek sê jou, dit is amazing. Ek is mal daaroor en ek voel lekker.”

Kokkedoortjie word van 30 September tot 5 Oktober in Kaapstad geskiet en sal volgende jaar in April uitgesaai word.

Lees nou

Pretoria-deelnemer kraai koning in Koekedoor

Koekedoor se Sanet verloor 20 kg

FOTO’S: Christina Storm se tweede baba is hier!