Het jy gehoor?

Jamie Uys innibos vereer

Die naam Jamie Uys en die fliek The Gods Must Be Crazy is sinoniem. Dis egter maar net één van die vele suksesvolle flieks wat dié fliek-legende gemaak het en hy was een van die eerste Suid-Afrikaanse filmmakers wat internasionaal vir sy werk vereer is. Beautiful People, wat die byna menslike gedrag van diere in die Kalahari en die Namib-woestyn wys, is in 1975 bekroon met ‘n Golden Globe-toekenning as Beste Dokumentêre Fliek. Jare later het The Gods Must Be Crazy ook groot sukses oorsee gesmaak.

Om hulde te bring aan sy nalatenskap sal daar tydens die Innibos-kunstefees, vanaf 1 tot 5 Julie in Nelspruit, ‘n spesiale Jamie Uys-fliekfees gehou word. Die volgende flieks sal in die Bush-bioskoop (in die ou Gimnasiumsaal) vertoon word: Die professor en die prikkelpop, Dirkie, Beautiful People, Funny People 1 en 2, en The Gods Must Be Crazy 1 en 2.

Alle vertonings is gratis en die hele gesin is welkom!