FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Het jy gehoor?

Jan Braai se geheime wapen vir fietstoer is … braaivleis!

“Braaivleis is die ideale kos om jou liggaam sterk te kry vir groot fietsry.”

’n Mens stry nie met Jan Braai (Scannell) van Seepunt nie. Hy het immers al in 1992 sy eerste Cape Town Cycle Tour (voorheen bekend as die Argus-fietsresies) afgelê en vanjaar sal hy dit op 8 Maart vir die 24ste keer voltooi. En hy oefen hárd. Sowat 5 keer per week – op weeksdae sowat 50 km vanaf Seepunt op teen die Chapmanspiek-pad tot terug by sy woonplek. En naweke, saam met vriende, soms tot 100 km op ’n keer.

Hy glo om reg te eet is net so noodsaaklik soos om hard te oefen. Baie proteïene: rooivleis, vis, hoender en varktjops werk vir hom. “Proteïen is die boublokke van spiere.”

En ja, hy braai sy vleis graag. “Ek hou ook van die bykosse soos braaibroodjies en aartappelslaai, so dit is nie asof ek nét vleis eet nie. Maar regtig, ek het al gedink die Proteas sal dalk beter krieket speel oorsee as hulle meer braai. Hulle mis die braaivleis. Die krag wat proteïene aan hulle gee.”

FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Jan ry pad- en bergfiets. En hy draf ook ’n bietjie. “Ek geniet dit om buite in die natuur te oefen en besoek glad nie ’n gimnasium nie. Fietsry is ’n gesonde sport, daar is geen impak nie, want niemand stamp teen jou nie. Jy kan bloot van die fiets afval, maar ek probeer om dit so min moontlik te doen! Ek voel só lekker ná ‘n kwaai sessie se getrap. My spiere is moeg en my hart en longe voel of ek ’n paar lekker strekoefeninge gedoen het …”

Hy sien nou al baie uit na die agt dae lange Absa Cape Epic (vir bergfietse), sy eerste poging hiermee, wat op 15 Maart begin en oor 830 km strek. (’n Gemiddelde afstand van 100 plus km per dag!) Die resies skop af by die Universiteit van Kaapstad en eindig ’n week later by die Meerendal-wynlandgoed buite Durbanville. Hy trap dit in die kleure van die titelborg ABSA saam met sy skoolvriend en kranige fietsryer Leonardo van Onselen.

Hy neem ook vroeg in Maart deel aan die drie dae lange Cape Rouleur-padwedren wat deur die wêreldbekende HotChillee-fietsry-organisasie aangebied word. Hier sal hy sowat 525 km oor drie dae moet aflê. Dit is van 2 tot 4 Maart en sluit af met ’n groot braai vir al die deelnemers, onder leiding van Jan. Baie deelnemers kom van Europa. “Dit is regtig pragtig in en om die Franschhoek-omgewing en die paaie word afgesper, so die fietsryers voel heeltemal veilig.”

Jan Braai en Ryk Neethling FOTO: Verskaf

Jan Braai en Ryk Neethling
FOTO: Verskaf

Dit is nie vir hom belangrik om aan elke fietsresies denkbaar deel te neem nie. “Ek kies ’n paar wat lekker is. In die begin van die somer is ek dol op die Wines2Whales-bergfietsresies (vanjaar van 6 tot 8 November) van Somerset-Wes tot Hermanus deur Elgin en die mooie berge van Grabouw.”

“Daar is ook elke jaar die Double Century einde November waar ons in spanne van twaalf ry, 200 km in een dag, ’n sirkelroete vanaf Swellendam deur die Klein-Karoo en Overberg. Ons braai die aand voor die resies en die aand daarna. ’n Rustige, ontspanne naweek.”

Nou het hy sy oog op ’n fietstoer einde Junie, van Londen na Parys – die London-Paris, wat ook deur HotChillee aangebied word. “Die laaste skof eindig in die Champs-Élysées (die hoofstraat van Parys, waar die beroemde Tour de France-padfietsresies elke jaar sedert 1975 eindig.) As dinge reg verloop, sal ek graag dít wil aanpak.”

Die fietsry-gogga het hom op skool begin byt. “Op Stellenbosch, waar ek grootgeword het, ry baie mense fiets. As kind was ek nie baie groot nie, so ek het nie goed gevaar in kontaksport waar krag in jou guns tel nie. En boonop het ek glad nie ball sense nie. So krieket of tennis het ook nie vir my gewerk nie. My pa, ook Jan, het baie fiets gery (ons ry trouens dikwels saam). Dit is eintlik danksy hom dat ek so lief geword het vir fietsry. Hy is natuurlik ook die man wat my leer braai het.”

Lees ook