FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Het jy gehoor?

Jana Nortier: ‘Sussie’ groet die Villa

Jana Nortier, beter bekend as Sussie van kykNET se Villa Rosa, groet die sepie ná 6½ jaar en werk nou agter die skerms – sy skryf storielyne!

Die laaste week van Januarie vanjaar het Sussie (vertolk deur Jana Nortier), ná ’n miskraam, haarself gaan vind …

“Ek het ongelooflik baie geleer op dié sepie. Dit is ’n klein tegniese span en groep akteurs wat daaraan werk. As jy twaalf uur per dag in mekaar se geselskap is, word jy soos familie. Om in ’n sepie te speel is baie harde werk. Jy moet gedissiplineerd wees, want jy moet elke dag woorde leer. Ek het presies geleer hoe om voor die kamera te werk. Jy moet druk kan hanteer. Maar ek het soveel kontakte opgebou, lewenslange vriende gemaak wat ek enige tyd kan bel sou ek in nood verkeer,” vertel Jana.

Sussie se karakter het haar geleer: “Aanhouer wen!” Sy was interessant en kompleks, maar my teenpool, vertel Jana. “Ons het soms koppe gestamp . . .’

Jana is versigtig. Sy leef nie nét in die oomblik nie, sy dink dinge mooi deur. “Ek het groot doelwitte. Sussie is tog so ordentlik en sensor alles wat by haar mond uitgaan. Ek kom soms in die moeilikheid oor ek ’n ding sê sonder om te dink . . .’’

Jana is dol op haar nuwe werk – sy skryf tekste en storielyne vir Villa Rosa.

“Ek het in 2002 my graad in drama aan die Universiteit Stellenboch verwerf en daarna ’n honneursgraad in drama aan die destydse Technikon Pretoria (2003). Ek het gespesialiseer in draaiboekskryf. Dit is wonderlik dat ek nou die geleenteid kry om dit te kan doen. Wilmien Rossouw, wat die regie vir Villa Rosa gedoen het en nou die hoofskrywer is, is ’n vrygewige leermeester. Sy is geduldig en het ongelooflik baie kennis. Ek groei daagliks onder haar leiding.’’

Op die stel van Villa Rosa FOTO: Villa Rosa

Op die stel van Villa Rosa
FOTO: Villa Rosa

Jana het pas klaar geskiet aan die fliek ’n Pawpaw vir my darling, gegrond op die boek van Jeanne Goosen.

“Dit is ongelooflik hoe my sepie-werk my gehelp het met die skiet van ’n vollengte-rolprent. Die dissipline van woorde leer, selfs om voor die kamera te werk . . . Wat ’n ongelooflike geleentheid om met van die land se top-akteurs soos Lida Botha, Deon Lotz en André Stolz te skiet. Ek het die karakter van die 21-jarige Mabel, die moeilike dogter, vertolk. Ek is mal oor Jeanne se letterkunde. Op universiteit het ek dikwels monoloë uit onder meer Kombuis-blues gedoen. Sy sê ’n ding soos dit is.”

Vir haar is die lekkerste deel van toneelspel die kitsbevrediging.

“Niks kom by acting high nie. Maar dit is erg om jou woorde te leer. My grootste kompliment was van ’n klasmaat wat op universiteit gesê het ek klim goed in my karakters in. ’n Mens moet nooit jouself speel nie . . . Hoe ouer jy raak, hoe meer afgestomp raak jy oor kritiek. Jy probeer maar bloot jouself verbeter en weet jy moet bly groei. Ek steur my net aan mense wat my wil opbou.’’

Intussen put sy inspirasie uit (veral) die ouer garde akteurs: Antoinette Kellerman, Lida Botha, Sandra Prinsloo en oorsese grotes soos Anthony Hopkins, Meryl Streep en Robert de Niro.

“Mense wat respek het vir toneelkuns, wat steeds groei soos hulle ouer word, wat dankbaar bly vir goeie rolle en bereid is om hul kennis met jonger akteurs te deel.’’

Sy is diep dankbaar dat sy deesdae genoeg werk het. Dikwels dink sy nog terug aan die dae van die Wimpy-advertensie, waar sy “foreign’’ gepraat het, aan die tye wat sy om den brode skool gehou het . . .

Miskien beteken die hordes nuwe Afrikaanse flieks ook ’n paar rolle vorentoe?

“Ek is verheug vir Afrikaanse filmmakers, maar jy moet net versigtig wees dat dit nie raak soos in die musiekbedryf waar almal naderhand ’n CD uitreik en gehalte agterweë bly nie. Dit is ’n reuse-uitdaging vir rolprentmakers.’’