klaar a
Het jy gehoor?

Jani se DIY-blog: Verf jou stoel – kussing en al!

Jani Goussard van Paint & Decor deel haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Dié week wys sy hoe om ’n stoel te verf – kussing en al!

Verf jou stoel!

Ek is absoluut verlief op Annie Sloan se Chalk Paint™, nie net omdat jy kan verf sonder om te skuur of onderlaag aan te wend nie, maar ook omdat jy stoffering so maklik daarmee kan verf. Ek wys gou hoe om ’n kombuis-stoeltjie oor te doen met slegs ’n lekseltjie verf.

Voor en ná

Voor en ná

Jy benodig

  • ’n Stoel
  • Annie Sloan Chalk Paint™
  • Annie Sloan Soft Clear Wax™
  • Stensil en kwas
  • 320-grint-skuurpapier

Beplanning

Stap 1: Maak skoon

Maak seker jou stoel is mooi skoon. Was dit sommer met ’n bietjie suikerseep of Sunlight Liquid op ’n lappie.

1 a

Stap 2: Prime … net ’n grappie. Verf

Met Annie Sloan se Chalk Paint™ hoef jy nie te skuur of te prime nie. Ek verf hierdie stoel met Annie Sloan se Graphite direk op ’n waterbasis-emaljeverf. Jy kan dit ook direk op verniste hout, metaal, emaljeverf én stoffering aanwend!

Verf die hele stoel, laat die eerste laag droog word en verf ’n tweede laag. Gewoonlik is twee lae genoeg, maar jy sal self sien hoeveel lae nodig is vir jóú projek.

Stap 3: Verf die stoffering

Om die kussing te verf is eenvoudig. Maak die kussing goed nat met ’n kwas wat jy in water doop sodat dit die verf makliker absorbeer.

Verf nou ’n hele paar lae verdunde verf op die kussing (jy hoef nie ’n waterige mengsel aan te maak nie; druk sommer net jou kwas in die verf en dan in die water en dan gaan jy voort om die kussing te verf) totdat die kussing se oorspronklike kleur glad nie deurskyn nie.

Laat die kussing droog word. (Jy kan sommer die stoel met nog ’n laag verf terwyl jy wag vir die kussing om droog te word.)

Stap 4: Skuur

Die stoelkussing sal hard voel nadat die verf droog geword het – gebruik 320-grint-skuurpapier om dit liggies te skuur. Dit sal die verf onmiddellik sagter maak. Vee die meeste stof van die kussing af met ’n droë verfkwas.

4 a

Stap 5: Waks

Waks nou die hele stoel – ook die kussing. Die waks sal die lap effens laat blink (ek wil dit graag vir hierdie projek só hê, maar jy kan ook die waks weglaat). Gebruik ’n kwas om die waks mee aan te wend – wees net versigtig om die randte van die stoel aangesien jy hier maklik met die klein bietjie druk wat jy moet toepas om die waks aan te wend van die verf op die skerp hoekies kan afvee.

Vee dan met ’n skoon sagte lappie die waks mooi glad.

Stap 6: Verf met ’n stensil

Ek het eers die Graphite-sitplek geseël omdat ek die stensilwerk met wit wil verf en die kans op swart wat met die wit meng wil uitsny. Deur die sitplek eers te seël, maak jy seker dat wat ook al jy bo-op die sitplek verf of stensil “suiwer” sal bly en nie met die onderste kleur meng nie.

Maak altyd seker jy het so min as moontlik verf op jou kwas terwyl jy stensil, anders loop die verf onder die stensil in en maak lelike smeermerke.

Die kant-stensil wat ek gebruik, maak dit maklik om die stensil te plaas, want dit kan sommer rond en bont wees aangesien die patroon nie werklik herhaal nie.

WENK: Blaas tussendeur met ’n haardroër om vinniger te kan stensil.

Jy kan tussendeur “bloei-merke” met ’n wet-wipe afvee omdat jy die basislaag (Graphite) geseël het met Annie Sloan se Clear Soft Wax.

Stap 7: Waks

Wanneer die hele stoel geverf en gestensil is en jy gelukkig is met alles, kan jy die sitplek ’n laag waks gee om die verf bo-op die sitplek ook te seël.

Jy kan sommer die res van die stoel ook met ’n tweede laag waks invryf – dit gee beter beskerming as net een laag.

Eindproduk! 

Jy kan nou jou stoel na hartelus gebruik – wees net bewus daarvan dat die Annie Sloan Clear Wax 28 dae vat om volledig te cure. Tot dan moet jy nie te veel vuilkolle daarop kry nie, maar ná 28 dae kan jy sommer enige kolle uit-buff met ’n bietjie Clear Soft Wax van Annie Sloan.

klaar a klaar b klaar c klaar e

Jani Goussard, 
Paint & Decor DIY
Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte of inligting oor werkswinkels.
 

Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard, Paint & Decor DIY.

Jani se vorige blogs – klik HIER