abraham
Het jy gehoor?

Jans Rautenbach se Abraham by KKNK te sien

’n Spesiale voorskou van Abraham, Jans Rautenbach se eerste film sedert Broer Matie in 1984, word vanaand eksklusief by die KKNK uitgesaai. ’n Voorlopige weergawe van Abraham is in Augustus 2014 by die kykNET Silwerskermfees vertoon, waar SARIE se Marguerite van Wyk met Jans gesels het.

’n Droom word waar.
 Die stof, die trane, die wanhoop en hoop van die Klein-Karoo kry lewe in meester- regisseur Jans Rautenbach se eerste fliek in dertig jaar. Dit is ook ’n ware verhaal. Sý storie.

Abraham is eenvoudig, maar kragtig. Die melancholie daarin tref diep. Tonele wissel van warm en sensueel tot trietsig en gestroop.

Die storie gaan kortliks oor die regisseur Jans en sy vrou, Almeri, wat woon op die plaas Oulap, buite Oudtshoorn. Jans neem die arm plaaswerker Abraham Soetland – ’n belowende kunstenaar wat met draad en klei werk – onder sy vlerk. Jy word bederf met uitgestrekte landskappe, grootse berge wat wag hou oor die mooi, wye wêreld. Tonele soos net kameraman Koos Roets dit kan skiet.

Daar is ook swaarkry: armoede, begrafnisse, troostelose sangstemme en Katie, Abraham se vrou, wat steier-steier die grondpad af. Haar kleintjie verward en verbaas.

Maar daar is ook die mooi van Katie en Abraham, gemoedelik, hul gesigte gebaai in warm, natuurlike lig. Die lekkerkry as Abraham die sensuele riel dans. Plof-plof hoor jy byna die stof soos dit uitpof om sy voete wanneer hy tol en draai.

Dis ’n storie oor die menslike siel wat maar immer bly hoop om die felste swaarkry te troef. Al is dit met ’n dansie. Dis ’n storie oor drome wat kan waar word.

Abraham kan vanaand, 10 April 2015 om 21:00 by die Langenhoven Gimnasium Klubhuis gesien word. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Kyk hier na die onderhoud met Jans Rautenbach:

Ontmoet die twee hoofkarakters Chantell Phillipus en Dann-Jacques Mouton 
is in die langverwagte fliek Abraham.

CHANTELL PHILLIPUS

‘Dis die storie van mý mense’

Jy is ’n boorling van Oudtshoorn – het dit gehelp om dié rol te vertolk?

Ja, ek is vars uit die Klein-Karoo se grond. Ek ken die armoede van onse mense. Probleme soos alkoholisme, uitsigloosheid. Katie, my karakter
in Abraham, drink spiritus. Dit is goedkoop. Baie mense wat hier woon, drink om die swaarkry te vergeet. Katie is moedeloos en bitter. Maar Abraham wys ook dat ons drome waar kan word. Mýne het. Ek speel in dié rolprent danksy oom Jans.

Hoe het jy die rol losgeslaan?

Ek was al ontvangsdame by ’n dokter, het tydelik as klerk gewerk by die KKNK, maar vanaf 2006 is ek lid
van ’n voltydse teatergeselskap, die Kambro Diggers. Oom Jans het die afgelope drie jaar vir ons kom kyk by die kunstefees. Hy het gesê hy hou van my opregte spel en ek is genooi vir ’n oudisie. Ek het nooit eens besef hy is so ’n vername mens in die teaterwêreld of dat hy hoegenaamd na ons produksies by die KKNK kom kyk nie. Die Vader het dié deur vir my oopgemaak.

Wat was die grootste fisieke uitdagings om in dié rolprent te speel?


Dit is buite Oudtshoorn op Vlakteplaas geskiet. Dit raak báie warm in daardie wêreld, soms tot 40 grade Celsius. Gelukkig was daar altyd iemand op stel met ’n sambreeltjie om oor ons te hou en water in ’n emmer om oor ons te spat. Ons het 05:00 al ontbyt geëet en om 06:00 begin skiet. As die son hoog staan, het ons gewoonlik ophou skiet. Partykeer het ons tot middernag gewerk as die regte beligting nodig was vir ’n sekere atmosfeer-skoot.

DANN-JACQUES MOUTON


‘Ek jaag fame

Wat is die grootste lewensles wat jy by Jans Rautenbach geleer het?


Moenie bang wees om drome te hê nie. My, Chantell en oom Jans s’n het waar geword met dié fliek. As jy eerlik is oor wat jy wil hê en jy werk hard aan jou craft, ís dit moontlik. Maar almal se drome word natuurlik nie waar nie . . .

Dink jy die publiek sal aanklank vind by Abraham?
 

Ja, dit is ’n storie wat baie ken. Daar is so baie Abrahams om ons. Mense wat droom oor ’n beter lewe. Die fliek gaan oor drome. Dit is ’n eenvoudige storie, ’n eg Suid-Afrikaanse een wat diep
sny. ’n Ware verhaal. Oom Jans en sy vrou, Almeri, het die plaaswerker (en kunstenaar) Abraham geken. Hulle wou die wêreld vir hom help “oopsluit”. Elke akteur in dié rolprent het ’n bietjie van sy eie storie na die stel gebring. Elke mens het sy eie drome wat hy wil waar maak.

Was daar chemistry tussen jou en Chantell?
 

Daar was taamlik gou lekker vonke tussen ons. Ja, die chemistry was beautiful. Oom Jans het nogal voor
die tyd gestres daaroor. Sy is ’n baie sensitiewe mens. Intuïtief. Ons het dieselfde humorsin en het elke keer voor ’n scene eers met mekaar gepraat. Wanneer ons geriel het, het ek haar nie net gegryp nie, ek het gevra, kan ek my hand hier sit, is dit oukei. Ons was gemaklik met mekaar en ons energie het goed saam gewerk.

Ná die fliek gemaak is [tussen Januarie en Maart 2014] en ek by
die KKNK opgetree het, kon ek nie verblyf op Oudtshoorn kry nie, toe nooi Chantell en haar man my om by hulle te bly. Sy’t gepraat van haar “twee mans”. Dit was baie cool.