Het jy gehoor?

Die toneelstuk Bye Ma, Jaypee by Atterbury Teater

Jaypee Malherbe is ‘n Kaapse haar-en-grimeerkunstenaar. Hy het met sy ma, Grieta Malherbe, se dood op 24 Januarie 2002 ‘n brief vir haar in die Kaapse dagblad Die Burger geplaas.

Daarna het hy jaarliks, totmet haar 100ste verjaardag in 2010, ‘n huldeblyk op dié dag (11 Oktober) in die koerant geskryf. Van regoor die wêreld het mense gereageer.

Die toneelstuk, Bye Ma, Jaypee, wat ook by die KKNK opgevoer is, is op dié briewe geskoei. Dis geskryf deur Daleen Kruger. Margit Meyer-Rödenbeck (Dowwe Dolla) behartig die regie en Chris van Niekerk vertolk Jaypee se karakter.

[box:full:grey:both]

Gaan kyk Bye Ma, Jaypee by die Atterbury Teater:

[/box]

11-12 September 2011

Kaartjies beskikbaar by Computicket

[box:full:grey:both]

Jaypee oor sy ma:

[/box]

“Ek het nooit gedink my huldeblyke gaan soveel reaksie ontlok nie. Margit het al ‘n paar jaar gelede vir my gesê hulle wil dit in ‘n toneelstuk omskep. Middel verlede jaar het sy en die mede-vervaardiger Herman Pieters aan die werk gespring. Daleen het my as ‘konsultant’ gebruik met die skryfwerk. Die teks laat my huil en lag.

My ma het my altyd aanvaar en my nooit anders as ander seuntjies laat voel nie. ‘n Vrou van Stilbaai het my onlangs gebel en gesê hul seun is ook gay en my huldeblyke oor die jare het hulle baie gehelp.

Ek onthou hoe ek soggens in die plaaskombuis op Robertson my ma se tuisgebakte brood geëet en koffie gedrink het in pajamas wat sý vir my gemaak het. Sy het dan meel aan haar hande gehad en haar hare was weggebind. Sy was altyd rustig en ‘n goeie luisteraar, ons kon ure gesels. Sy het my geleer jy moet alles wat jy aanpak, klaarmaak, en álle besluite goed deurdink.”