Jennifer Aniston en haar man, Justin Theroux
FOTO: Gallo Images / Getty Images

Jennifer Aniston en haar man, Justin Theroux FOTO: Gallo Images / Getty Images

Het jy gehoor?

Jennifer Aniston: ‘My troue was pragtig’

Die Friends-aktrise Jennifer Aniston het uiteindelik haar stilte verbreek en sê haar troue was “heerlik privaat”, berig People Magazine.

Die 46-jarige brunet was gisteraand by die Los Angeles-première van haar nuwe rolprent, She’s Funny That Way, waar sy vir die eerste keer as mev. Theroux in die openbaar verskyn het.

Jennifer is erg oor haar privaatheid en het aan Entertainment Online gesê: “Dit was ’n pragtige, private oomblik en ek gaan selfsugtig wees en dit net so hou!”

Toe een verslaggewer haar oor haar trourok en koek uitvra, het sy hom met ’n glimlag geantwoord: “Ek gaan nie ’n woord oor enigiets sê nie.”

Een van die bekende trougaste, Ellen DeGeneres, het wel iets te sê gehad: “Dit was ’n wonderlike aand. Ek het hulle albei baie lief. Hulle is goeie mense en verdien om gelukkig te wees.”

Jennifer en die akteur Justin Theroux het op 5 Augustus in hul huis in Bel Air ewige trou aan mekaar beloof. Die gaste het gedink hulle is vir Justin se verjaardag genooi en so is dié geleentheid ’n geheim gehou.

Bronne: People Magazine en Entertainment Online

Lees ook