Het jy gehoor?

JLo spog met SA kuns in haar huis

Jennifer Lopez het so baie van die Suid-Afrikaanse fotograaf Ant Fox se werk gehou, dat sy dit nou in haar huis uitstal …

Die oomblik toe die Amerikaanse superster Jennifer Lopez foto’s van Ant Fox in die Ralph Lauren-boetiek gesien het, het sy geweet sy moet dit hê.

FOTO: Een van Ant Fox se pragtige see foto’s. Vir meer besoek sy webwerf

Ant neem hoofsaaklik branderplankryers af en baie van sy foto’s word in die branderplank-tydskrifte Surfer en Zig-Zag gepubliseer. Maar dit was sy foto’s teen die mure van die luukse ontwerpersboetiek in die kusdorpie Hamptons wat Jennifer se oog gevang het.

“’n Vriend het my gekontak en gesê die winkel soek kuns met ‘n see tema. Ek het toe ‘n paar van my foto’s ingestuur. Ek het nie gedink hulle sal dit gebruik nie en ek kon glad nie raai dat dit aan iemand soos JLo verkoop sal word nie!” het dié fotograaf aan 2Oceansvibe gesê.

En Ant se geheim? “Wanneer groot name soos Kelly Slater of Jordy Smith branderplankry is daar te veel fotograwe in die water – byna soos ‘n water weergawe van die paparazzi by die Oscars. Dis hoekom ek verder kyk as die generiese brander-foto, ek wil eerder die emosie vasvang van daardie epiese oomblikke.”

Bron: 2Oceansvibe en Ant Fox Photos