Joost-Poster-Option-2-620x870
Het jy gehoor?

Joost-fliek begin vandag in teaters draai

Arrogant, selfsugtig . . . Dis hoe die bekroonde joernalis Odette Schwegler aan oud-rugbyspeler Joost van der Westhuizen gedink het. Toe ontdek sy ’n nederige man.

SARIE se Marguerite van Wyk het met Odette gesels net ná Joost: Spel van glorie, ’n dokumentêr oor Joost se lewe en sy stryd met motorneuronsiekte (MNS), verlede jaar by die kykNET Silwerskermfees bekend gestel is. Sy was die regisseur en vervaardiger van die dokumentêr en sien Joost nou as ’n broer.

Hoop en moed

Die fliek fokus nie op sy agteruitgang nie. Dit is ’n storie van hoop – méér as net ’n verhaal van vasbyt. Want hoe swakker hy fisiek word, hoe sterker word sy siel. Voorverlede jaar het dit in ’n stadium gelyk asof hy gereed is om te sterf. Deesdae is hy ’n ander mens, vol moed.

By hom het Odette geleer eers as jy jou gesondheid kwyt is, as jou tyd min raak, kry jy kans om die lewe opnuut te waardeer. En om dinge reg te maak.

Die dokkie is ook die storie van liefde

En die krag van ’n hegte gesin. Joost se familie, ouboet Pieter en sy vrou, Marijke, jonger boet, Gustav (getroud met Sonja), en sy ma, Mariana, en pa, Gustav, hou Joost se arms hoog. Pieter help al twee jaar lank om Joost (op weeksdae) te versorg. Dié oud-polisieman is deesdae betrokke by Joost se J9-Stigting, wat inligting, steun, praktiese en geldelike hulp aan MNS-lyers en hul gesinne verskaf.

Omdat dit so persoonlik is, het Odette die dokkie, voor dit by die Silwerskermfees vertoon is, aan Joost en sy gesin gewys. “Dit was ’n baie emosionele affêre. Ons het ’n bietjie gelag en nou en dan ’n traan gestort. Daarna het ons by my huis vleis gebraai. Joost se ma het my vasgedruk. Ná die première het Marijke my hand vasgehou en gesê: ‘Nou is jy familie.’”

Nou is ons familie

Volgens Odette het Joost vroeg verlede jaar hernude energie gekry nadat hulle die Amerikaanse MNS-kenner dr. Hiroshi Mitsumoto hoor praat het. Hy het vertel MNS-lyers “kan leef so lank as wat hulle wil leef ”. Jou houding bepaal so baie. “Dit was die eerste keer dat ons iemand so iets oor dié siekte hoor sê het. Sedertdien is Joost ’n nuwe mens – hy maak weer langtermyn-planne.”

Odette kry trane in die oë, aangedaan. “Ek dink hy is nog lank nie sterwend nie. Dink net aan die Britse fisikus dr. Stephen Hawking. Hy is op 21 met MNS gediagnoseer en is nou 72.”

Oud-rugbyspelers oor Joost

In die dokkie sê die eertydse Bok-kaptein, François Pienaar, oor Joost se rugbyspel: “Hy’t nie bevraagteken nie, hy’t gedoen, ondersteun en altyd geleenthede gesoek.” Odette reken dit is ook hoe hy sy siekte benader. “Maar hy bevraagteken beslis konvensionele medisyne – vasberade om dit verkeerd te bewys.”

Gary Teichmann, eertydse Bok-agsteman, se woorde in die dokkie som Joost se lewenshouding goed op: “Op die veld het ek geweet dié ou gaan 150% gee – om te wen en om ander by te staan.”

Hierdie uittreksel kom uit ’n onderhoud wat in die Desember 2014-uitgawe van SARIE verskyn het. Dit is nie meer te koop nie, maar jy kan dit HIER aflaai.

Joost: Spel van glorie is van vandag 21 Augustus 2015 in teaters te sien, hier is die lokprent:

Lees ook