FOTO Instagram / @joshuanadiereen

Het jy gehoor?

Joshua na die Reën se ‘Maak genoeg hoender’-gereg

Joshua na die Reën sê hy het net mooi herinneringe uit sy kinderdae op die plaas. “Reën op die sinkdak ná ’n warm Novemberdag, groen velde en koppies, paddas en krieke wat die nagte om sing en dan natuurlik my ma se ‘Maak genoeg hoender’.”

Hy en sy gesin eet gesond en skoon.

“My vrou gebruik nie sommer souse en bestanddele wat suiker bevat wanneer sy kook nie. Daar is ’n plaaslike organiese groenteplaas naby ons huis, Nature’s Heritage, waar ons organiese groente en vrugte, eiers van skrophoenders en rou melk koop. Anán, ons 2-jarige dogtertjie, is ook lief vir groente en eet sommer rou broccoli uit die tuin. Sy kan al tiemie, roosmaryn en koljander uitken en pluk gereeld vir haarself ’n blaartjie wanneer sy saam met Danél, my vrou, in die tuin werk.’’

So mooi soos net jy kan wees @aardskind

A photo posted by Joshua na die Reën (@joshuanadiereen) on

Hoewel hulle gesond eet, moet dit lekker smaak. Af en toe bederf hulle hulself met dié resep uit sy kinderdae. “Dit is maklik en smaaklik.”

Maak Genoeg Hoender vir Jacques: Bestanddele

– 10 boudjies en dye van skrophoenders (free-range chicken)

– 250 ml blatjang (verkieslik tuisgemaakte perskeblatjang, maar Mrs. Ball’s sal ook reg wees)

– 250 ml mayonnaise

– 250 ml water

– 1 pakkie uiesop

– sout en peper na smaak  

Opsioneel: 1 t kerriepoeier (Die Boeremark in Silverton, Pretoria, het n stalletjie wat die lekkerste kerrie meng)

Metode

– Verhit oond tot 180°C.

– Plaas hoender in ’n oondbestande pan of bak.

– Meng blatjang, mayonnaise, water, soppoeier, en kerrie in ’n bak of beker. Geur met sout en peper.

– Gooi die sous oor die hoender, maak dit toe en bak vir ’n uur. Haal die deksel ná 45 minute af sodat die hoender mooi verbruin. Skep dit oor basmati-rys met ’n lekker vars slaai daarby.

Kyk gerus uit vir sy nuwe album Die wêreld binne mylandwyd beskikbaar.  

“Ek is gebou, jy is gebou en die wêreld binne my is in afwagting oor jou. Kom hardloop deur my woude, kom swem hier in my see. Wees somer oor my berge, want dis hier waar jy regeer – ek in jou en jy in my …” is lirieke uit die titelsnit, “Die wêreld binne my”.

Hy vertel: “Anders as die eerste CD, wat meestal gegaan het oor hoop en droom, is Die wêreld binne my se liedjies meer persoonlik en handel dit oor die wêreld binne elkeen wat daarna luister.”

“Oor die heuwels en berge, die stof en sterre, die droef en tye wat dit voel of alles stroomop is, die tye waar ’n mens droom en dan ook die mooi in dit alles … die goeie sowel as slegte tye.”

Die genre is egter steeds stadium rock, vertel hy, soos met die vorige album.

“Die tema vir die nuwe album draai al in my kop sedert ons die eerste een voltooi het; dat daar in ons elkeen ’n wêreld is wat niemand ooit sal verstaan nie. Ons doel is byna om mekaar stadig maar seker toe te laat in ons wêreld, sodat ons op ’n plek kan kom waar ons ’n waardevolle pad met mekaar kan stap. Ek is geïnspireer deur beelde uit die natuur, mense se stories en die dag toe ek besef het dat die moeilike dinge in jou lewe soms die grootste geskenk is – as jy besluit om dit te koester en iets daaruit te leer – andersins word dit jou grootste vyand en sal dit jou om elke hoek en draai inwag.”

Dankie dat julle die nuwe JNDR album koop op iTunes. https://itunes.apple.com/za/album/die-wereld-binne-my/id1138107921

A photo posted by Joshua na die Reën (@joshuanadiereen) on

Hy vertel verder: “My grootste uitdaging is om die  emosie weer te gee wat ek voel wanneer ek die dinge ervaar waaroor ek sing. Daarom het ons probeer om met hierdie album dinge ’n bietjie anders te doen. ’n Groot verskeidenheid klanke en instrumente is gebruik om die gevoel en beeld te skep wat ons graag wou vasvang. Die uitdaging was dus om niks verlore te laat gaan tydens die meng- en bemeesteringsprosesse nie. Dit het veroorsaak dat die album byna sewe maande langer in die vervaardigingsproses moes deurbring, sodat ons kon seker maak die luisteraars hoor alles wat hulle moet … en ek is so tevrede met wat musiekvervaardiger Ben Ludik en my broer, Pierre de Villers, gedoen het. Dis min dat jy mense ontmoet wat alles sal insit vir jou. Ek is baie dankbaar. Verder het ons ook nie die stemopnames in die ateljee gedoen nie. Ek het self opnames gedoen, met my mikrofoon en skootrekenaar, soos wat die inspirasie my beetgepak het en dit was baie spesiaal.’’ 

Joshua het dit ook geniet om saam met die Tuks Camerata-koor te werk. “Ek wou dit nog altyd doen. Hulle het n unieke musikale dimensie geskep, iets wat byna klink asof dit deur die eeue weergalm. Daar is soveel drome in my hart om die land vol te toer saam met hulle, sodat mense kan beleef wat die effek van so ’n briljante koor is saam met ’n band.”

Die wêreld binne my kan reeds op www.jndr.co.za bestel word en daar is ook ’n lys winkels op die webwerf waar belangstellendes kan sien watter winkels die CD aanhou. Hou sosiale media dop vir meer inligting.

Kyk hoe sing hy een van sy nuutste treffers:

Lees nou

Ontmoet die regte Naked Chef!

SARIE se 2016-sterre: Beáte Opperman se jaar van groei