sr1303_hjg
Het jy gehoor?

Josie Borain speel in musiekvideo

In “Goodbye ian Curtis” flits ou beeldmateriaal van haar modelloopbaan terwyl ’n grys, maar steeds beeldskone Josie selfportrette met ’n selfoon neem.

“Ek het dit as ’n eer beskou toe hulle my gevra het om in die video te speel. Dis die eerste keer in jare dat ek weer voor ’n videokamera is – en ek sal dit beslis weer doen! Dit is altyd pret en opwindend om iets anders as die gewone te doen, en veral saam met kreatiewe mense – soos die span van Motion City Films [die produksiemaatskappy wat verantwoordelik is vir dié video]. Ek het al uittreksels gesien en dit lyk amazing. My 16-jarige seun is mal daaroor,  en sy vriende hou ook daarvan!

“Ek hou van die styl waarin die video verfilm is en die klere wat ek daarin dra. Dit het weer soos in die ou dae gevoel om deel te wees van ’n kreatiewe proses. Die enigste aanpassing is dat ek nou ouer is en ouer lyk …ek is nogals krities daaroor. En dit was fantasties om weer die ou swart-wit filmmateriaal te sien. Ek kyk hopeloos te min daarna. Dit herinner my aan die goeie tye.

“Ek wens ek kan vir my jonger self in die filmmateriaal sê om dit net te geniet. Dit hou nie vir ewig aan nie. Ek is nou besig met ’n toer deur Suider-Afrika om foto’s te neem. Die toer is tot dusver heerlik! En die toekoms …die toekoms moet nog geskryf word, maar ek is game vir enigiets!”