september corne crous corné kim 7de laan
Het jy gehoor?

In jou September 2014-uitgawe – 7de Laan-ster voor kameras

Lente het styl. ’n Sekere elegansie en fyn manier van doen. Jou kop dink nog winter; jou lyf steeds gepantser teen die koue met serpe en dik truie. En dan, op ’n dag kyk jy op en die boom in die tuin is oortrek van bloeisels. Jy’s half verstom, want kan dit wees dat winter met sy eindelose grys verby is en heerlike lente voor ons staan? Dis lente se storie. Sy kom sonder ’n trompetgeskal, stil-stil, maar verander in ’n oogwink die dinamika van ons dae. Daar’s weer kleur, oral die spoor van nuwe lewe. Ons eie treë raak ligter.

So goed onthou ek die pruimboom oorkant die straat van ons huis op Caledon in die Overberg. As kind het ek winterlank toegekyk hoe die boom deur wind en snerpende koue gestraf word, totdat dit voor my oë, byna oornag, in ’n sprokiesboom omgeskep is. Lente het haar towerstaf kom swaai en die afgetakelde takke met sagte bloeisels bedek. Elke keer was ek verwonderd oor die seisoene se kom en gaan. Oor die vreugde en mismoedigheid wat dit om die beurt, in byna gelyke mate, uitdeel.

Vir ons was hierdie ’n láng winter. Lank, nie in dae nie; ook nie oor die koue wat ons land in sy greep gehad het nie, maar in ons gemoed en gees. Want die moderne wêreld is een en dinge wat dáár gebeur, in ander lande, is nou hiér en raak ons net soveel soos ons eie. ’n Vliegtuig wat met al sy passasiers verdwyn ondanks vandag se top-tegnologie; ’n tweede wat met onskuldige passasiers in ’n oorloggeteisterde wêrelddeel afgeskiet word; jong skoolmeisies wat in Nigerië ontvoer word deur ’n terroriste-groep wat teen geleenthede vir vroue is, en nog nie weer gesien is nie (buiten ’n handvol wat ontsnap het); oorlog in die Midde-Ooste wat mense stukkend, seer en sonder hoop laat; en hier in ons land, die volgehoue mishandeling van kinders en vroue, en stakings wat die ekonomie verlam en twyfel saai oor wat die toekoms inhou. En steeds die korrupsie, steeds e-tol, steeds die wapenskandaal, steeds die Oscar Pistorius-saak. Ook druk op ons taal, Afrikaans.

Dis maklik om in winter se draaikolk van moedeloosheid te beland. Dís immers elke dag se praatjies op kantoor en om die etenstafel, en ons argumente dan is meestal emosioneel en skaars gebalanseerd. Ook nie gemik op ’n werkbare plan nie. Leef klein, dink ek in tye soos dié. Dis mý oorlewingstaktiek teen winters wat ons stroop van moed en keer om deel te neem, by te dra en antwoorde te vind. ’n Klein kringetjie is waar ons vir nóú moet fokus. Ons vriende, familie en kollegas. Die vrou wat vir ons werk, die man in ons tuin, die kind wat koestering soek. Mense vir wie ons iets kan beteken en hulle vir ons. Sodat ons sáám weer die goed en die goeie kan raaksien. Dis immers lente, heerlike lente, en dit bring áltyd nuwe insigte en inspirasie.

Tot ons weer gesels wanneer ons Oktober-uitgawe vanaf 15 September op straat is. Met SARIE se Voorbladgesig-wenner 2014 op dié voorblad. Ons kan skaars wag!

Groete,
Michélle van Breda

Lees dít in jou September-uitgawe

– Top-10 Voorbladgesig-finaliste
– Rugby-bok Handré Pollard gesels
– Verhoudings: Praat meer & skei minder
– Weg met daai maag! (5 bladsye)
Dagbreek se Pierre Breytenbach

september corne crous corné kim 7de laan

Corné Crous stralend voor die lens.

Klik om ‘n onderhoud met haar te kyk

FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Marijke Willems