Het jy gehoor?

1ste FOTO: Justin Timberlake en Jessica Biel se troue

In ‘n reeks baie private troues uit Hollywood, het Justin Timberlake en Jessica Biel ook die knoop deurgehaak. Hulle is uiteindelik Vrydag 19 Oktober by die Borgo Egnazia-oord in Puglia, Italië, getroud. Die bruidegom het ‘n spesiale liedjie vir sy bruid gesing terwyl sy in haar pienk Giambattista Valli-trourok kansel toe gestap het.

“Romanse romanse romanse!” Dis wat Jessica wou hê haar rok moes sê. Vir Justin “was dit die mooiste gesig wat hy nog ooit gesien het”.

Die baie private geleentheid het die media se geskarrel om die regte vir die troufoto’s net vererger aangesien tydskrifte hard probeer om hul rakverkope met dié voorbladfoto’s te laat styg.

People-tydskrif het dit reggekry om die eerste troufoto’s eksklusief teen ‘n bedrag van sowat $300 000 (sowat R2,6 miljoen) te koop. Dis aansienlik goedkoper as vorige bekendes se troufoto’s. Volgens hul ooreenkoms mag die tydskrif slegs die foto’s in Amerika publiseer. Dit maak dit moontlik vir die paartjie om meer geld uit die verkoop van regte buite Amerika te maak.

Catherine Zeta-Jones en Michael Douglas se troue is destyds vir sowat R8,7 miljoen ($1 miljoen) verkoop met Demi Moore en Ashton Kutcher se foto’s wat vir R26 miljoen ($3 miljoen) verkoop is –  ‘n rekord volgens Forbes.