Het jy gehoor?

Justin Timberlake se goue hart

’n Breinpasiënt (13) van New York is na dese een van Justin Timberlake se grootste aanhangers. Dié 32-jarige sanger het gister sy mediatoer vir ’n wyle onderbreek toe hy daarop aangedring het om eers met haar te praat. JT was Dinsdag haastig op pad na ’n regstreekse radio-onderhoud in New York, toe sy paaie met Tina DiLascio gekruis het. Sy het hom van haar dogter Giana vertel wat verlede jaar ’n baie groot breinoperasie ondergaan het om ’n ernstige blokkasie te verwyder. Justin het net daar in sy spore omgedraai om dié jong vegter te ontmoet. Giana en haar broer het buite die gebou vir hul ma staan en wag. JT het ewe geduldig binne die gebou gewag dat Tina haar dogter buite gaan haal en hulle twee aan mekaar voorstel. Haar dogter en die sanger het ’n hele paar minute lank lekker gesels, het Giana se ma gesê. Justin het gevra of sy die VMA’s (MTV Video Music Awards) gekyk het, waarop sy baie opgewonde geantwoord het: “Jy is die volgende Michael Jackson!” Giana het gevra of sy ’n foto saam met hom mag neem en hy het ingestem, maar op een voorwaarde: “Nét as jy dit jou selfoon se screen saver maak!” Justin Timberlake Ná ’n lekker geselsie met sy aanhanger moes hy weer na sy toerverpligtinge terugkeer, maar nie voordat hy haar ’n groot druk gegee het nie. “Goedgaan,” was sy laaste woorde aan haar. En net vir ingeval julle wonder … die foto van hulle twee ís haar selfoon se screen saver! Bron: TMZ