FOTO: Morné van Zyl

FOTO: Morné van Zyl

Het jy gehoor?

Karen Zoid: Die rock chick is groot

Haar windgat-jare is verby; die lewe het haar grootmens gemaak, sê bekende SA rocker en ma Karen Zoid. Alles waaroor sy gedroom het, kom nou bymekaar – selfs haar eie treffer-TV-program.

Jy as enkelma en Ben het baie pret. Hy woon ook dikwels jou konserte by. Wat is die belangrikste dinge wat jy vir hom sou wou leer?

“As musiek begin speel”, my liedjie vir hom, is ’n soort message in a bottle, omdat ek altyd so gewens het ek kry ’n brief van my ma, Jeanette. Sy is op 34 dood aan kanker. Sy was sewe jaar lank siek. Ek het op nege, toe sy dood is, besef jy is alleen op aarde en die lewe is kort.

Met Ben se geboorte het ek geweet hy is die grootste verantwoordelikheid van my lewe.
Jy moet eintlik ’n lisensie kry vir ouerskap. Jy kan in alles misluk, maar jy dúrf nie jou kind faal nie.

My boodskap aan Ben (en almal!) is om die lewe te vier. Hardloop met jeans in die see, waag om weerloos te wees, want daar gaan ’n dag kom wanneer hy langs ’n oop graf gaan staan…

Jy sing “Afrikaners is plesierig”. Is ons?

Jaaaa. Ons is goeie mense, ons doen mooi dinge. Ons kan lekker lag. Maar ons is ook vals, pretensieus en verskriklik bang en kwaad. Die goeie dinge van ons mense is ook die
slegte dinge. Ons wil altyd die blink kant bo hou.

Maar soms werk dit teen jou. Kyk nou maar na die media. Alles altyd in die oortreffende trap. Die ma, pa en kindjie sit doodgoed op die voorblad. Hulle is gelowig, ’n kernhuisgesin. Die teenpool: die sanger Steve Hofmeyr sê swartmense is die argitekte van apartheid. Daar’s net niks in die middel nie. Ons volk onderdruk al dekades lank emosies. Nou gang almal op teen Steve. Maar dit gaan oor die ou se siening.

Ek identifiseer byna meer met swartmense. Hulle eet en praat en gesels en glo nie jy beïnvloed iemand deur vir hom iets te sê en dan wil jy eintlik hê hy moet soos jy dink nie.
Afrikaners is dikwels so selfsugtig. Ons voel jammer vir die vuil straatkind met die mond vol swere. Ons druk die muntstuk in sy hand. Maar ons gaan nie sommer in die weeshuis
werk of vakansies help huise bou vir die armes nie. Ons worry oor ons eie kinders se heil. Iemand wat sê hy is ’n ateïs, word uitgekryt. Daar is ’n lang geskiedenis van liefdeloosheid en onverdraagsaamheid in baie van ons eie huisgesinne.

Lees ook