RZA Epi3 02
Het jy gehoor?

Karen Zoid doen dit vir ’n derde week – wéér NOMMER EEN op iTunes

Suid-Afrikaners luister vanoggend weer eens na ’n Karen Zoid-treffer. In Donderdagaand se episode van die Republiek van Zoid Afrika het Karen en Vicky Sampson “African Dream” gesing en dit is ná die program, waarin adv. Thuli Madonsela en Rolene Strauss ook gaste was, in Apple se iTunes-winkel beskikbaar gestel.

Soos die ander ikoniese liedjies wat Karen in haar program laat herleef het, het haar en Vicky se weergawe van “African Dream” dadelik ’n iTunes-treffer geword. Dit het oornag die gewildste liedjie in die Suid-Afrikaanse iTunes-winkel geword.

“Om saam met Vicky “African Dream” te sing is ’n kersie op die koek – dis ’n onvergeetlike optrede wat ek vir die res van my lewe sal koester,” sê Karen.

Sedert die derde seisoen van die Republiek van Zoid Afrika op 7 Januarie begin het, het Karen elke week die nommer een-plek op iTunes beklee – eers met Dis ’n Land saam met Snotkop en verlede week was dit Jantjie kom Huis toe saam met Emo Adams se beurt.

Karen het in 2015, met die tweede seisoen van haar geselsprogram, vir weke die topposisie op iTunes se trefferlys gehaal.

Dié album, Republiek van Zoid Afrika, Volume 2, het nou met die nuwe seisoen nuwe aandag van musiekliefhebbers getrek. Dit is die afgelope weke weer eens een van die gewildste albums op iTunes.

African Dream” kan in die Suid-Afrikaanse iTunes winkel vir R9,99 gekoop word.

Volgende week op RZA:

In volgende week se episode (28 Januarie) gesels Karen met Juanita du Plessis en Adriana Marais (sy is op die kortlys om ‘n eenrigting missie Mars toe te onderneem)

Die Republiek van Zoid Afrika word Donderdae, 20:30, op kykNET uitgesaai.

Lees nou