FOTO: Facebook  Karlien van Jaarsveld

FOTO: Facebook Karlien van Jaarsveld

Het jy gehoor?

Karlien van Jaarsveld oor ‘Strictly Come Dancing’-senuwees

Die sangeres Karlien van Jaarsveld neem vanaand aan die finale episode van die gewilde realiteitsreeks Strictly Come Dancing SA deel.

Karlien en haar dansmaat, Devon Leigh Snell, het die afgelope 2 maande elke Vrydagaand kykers met hul danspassies en -tegnieke beïndruk – soseer so dat hulle tot die finale rondte deurgedring het.

Nou vir hul grootste en laaste uitdaging kom hulle teen nog twee paartjies te staan – die Expresso-aanbieder Leigh-Anne Williams en Mvango-akteur Nkuli Tshirumbula.

Karlien vertel tussendeur die laaste voorbereidings aan SARIE.com hoe sy die senuwees vir vanaand in toom hou.

Senuwees

“Ek sien regtig baie uit na vanaand. Dit is die laaste keer wat ons gaan dans, so ek gaan dit net geniet. Natuurlik is daar vlinders in my maag, maar ek voel goed – dit help nie om te bekommer nie,” vertel Karlien telefonies vanaf die ateljee waar sy oor ’n paar ure haar staal moet wys.

Terwyl ons oor die foon gesels word sy in ’n rok vasgewerk. Dié rok sal weer voor die finaal vanand losgesny word en tydens die program sal sy in drie verskillende rokke “ingewerk” word.

Familie

Vir haar is die grootste uitdaging om kalm te bly. “Ons dans nie vanaand vir die beoordelaars nie, net die kykers se stemme tel vir die finale beslissing.” Sy vertel haar man, die oudrugbyspeler Derick Hougaard, berei haar sielkundig voor terwyl maande se oefening haar fisies voorberei.

“Derick weet van finals, so hy maak seker my kop is reg vir vanaand.”

Karlien se broer, die sanger Bobby van Jaarsveld en sy vrou Annatjie sal vanaand saam met Derick daar wees om haar te ondersteun.

En met haar tweeling, Eliah en Daniël, dans sy gereeld. “Hulle lag te lekker as ek vir hulle dans en ons dans met hulle by die huis. Derick kan redelik goed dans, maar hy sal seker nou iets by my kan leer,” spot sy.

Passie vir dans

“Ek kon glad nie dans voordat ek aan Strictly Come Dancing deelgeneem het nie. Ek was altyd die een waarvoor almal gelag het wanneer daar gedans word.”

Karlien sê sy het in dans ’n tipe vryheid gevind wat sy nie vroeër geken het nie.

“Dis ’n vryheid vir jou liggaam, siel en gees, en dit kan jou lewe verander.”

Dansmaat Devon

Sy en Devon het ’n hegte band gevorm in die laaste twee maande. “Ons het baie goeie vriende geraak en ons sal beslis vriende bly ná die reeks vanaand afsluit. Ek het sy familie leer ken en ons almal kom baie goed oor die weg.” Sy glo hulle twee, wat selfs saam bid voor hulle dans, is vanaand hul eie grootste kompetisie.

Ready for another day of practice injuries and all!! #SABC3strictly #SCD8

A photo posted by Karlien (@karlienvanjaarsveld) on

Karlien, ons hou styf duimvas vir vanaand!

Karlien se teenstanders

Leigh-Anne Williams en haar dansmaat Johannes Radebe

Nkuli Tshirumbula en sy dansmaat Nombulelo Hlathi

Stem só

Maak seker jy stem vanaand van 19:30 tot 21:00. Die finaal word vanaand regstreeks om 19:30 op SABC 3 uitgesaai.

karlien en devon

Lees ook