FOTO Getty Images / Gallo Images

Het jy gehoor?

Kate Middleton 35 jaar, 35 beste uitrustings

Vandag vier Kate Middleton, die hertogin van Cambridge, haar 35ste verjaardag. SARIE.com het besluit om die stylvolle prinses se dag ook te vier met ’n keuse van haar 35 uitrustings wat ons die meeste beïndruk en ons bygebly het.

6 Desember 2013

In ’n ivoorkleurige aandrok met ’n halssnoer van Zara by die koninklike première van die rolprent Mandela: Long Walk to Freedom.

11 Mei 2012

In ’n groenblou rok met kantdetail by ’n Olimpiese Spele-temakonsert by die Royal Albert Hall in Londen. Sy dra ’n paar Jimmy Choo-hakskoene en ’n bypassende handsak.

9 Julie 2011

Kate maak ’n verskyning by die BAFTA Brits to Watch-toekennings in ’n laventelkleurige rok deur Alexander McQueen. Haar diamant-kandelaaroorbelle het sy by koningin Elizabeth geleen.

29 April 2011

Die ikoniese trourok deur Sarah Burton vir Alexander McQueen. Na bewering het meer as 2 miljard mense reg oor die wêreld na dié troue op TV gekyk.

16 November 2010

Die saffierblou oorvourok waarin Kate en William hul verlowing aangekondig het. Replikas van die rok het uitverkoop.

18 Desember 2011

Nog ʼn Alexander McQueen-rok by die Imperial War Museum in Londen. Mouloos, swart en klassiek. Haar kaal skouers is versier met ʼn diamant-halssnoer.

23 Oktober 2013

Tydens prins George se doop in ’n geriffelde roomkleurige rok deur haar gunsteling-ontwerper, Alexander McQueen, en ’n fascinator deur Jane Taylor.

6 Desember 2012

Die ivoorkleurige aandrok met sy hoë spleet deur Roland Mouret het sy al vantevore gedra. Kate dra haar klere maklik meer as een keer. Vir die première van Mandela: Long Walk to Freedom het sy net ʼn halssnoer van die winkelgroep Zara bygesit.

11 Februarie 2014

Inkblou aandrok van sy en tulle met ʼn indrukwekkende halssnoer by ’n gala van die National Portrait Gallery.

24 April 2014

In Canberra, Australië, in ʼn smaraggroen jasrok.

4 Augustus 2014

Nog ʼn jasrok, weer ʼn keer Alexander McQueen! En weer haar staatmaker neutrale kleur skoene. Kate weet wat werk vir haar, maak nie saak waar sy in die wêreld is nie. Die jas het sy in België gedra.

20 Oktober 2015

In ʼn lang vloeiende rooi aandrok deur ontwerper Jenny Packham by haar eerste Staatsbanket. En die tiara is een uit koningin Elizabeth II se persoonlike versameling.

23 Oktober 2015

’n Swart rolnektrui, swart langbroek en lang swart stewels onder ʼn kobaltblou jas. Ideaal vir ʼn koue oggend in Skotland.

26 Oktober 2015

Op die rooi tapyt in ’n chiffon-aandrok deur Jenny Packham. Met die mooiste blink bykomstighede.

27 Oktober 2015

Kate het die koppe laat draai in die blou-en-rooi aandrok met blompatroon vir ’n ete by die Victoria & Albert Museum in Londen.

11 April 2016

In Indië vir ʼn partytjie om koningin Elizabeth se 90ste verjaardag te vier. Sy lyk onweerstaanbaar in die wit-en-swart Temperley London-rok.

13 April 2016

Tydens haar besoek aan Indië dra Kate ʼn pienk geborduurde rok van die Britse kettingwinkelgroep Topshop.

4 Mei 2016

In Hampton Court in ʼn jas deur Michael Kors.

21 Mei 2016

Selfs op haar afdag lyk Kate stylvol. Al is dit net in ʼn swart trui en donker denimjeans en ʼn paar swart Adidas-tekkies. Die turkoois veters rond die prentjie mooi af.

FOTO Want Her Style

FOTO Want Her Style

6 Julie 2016

In ʼn wit skouerlose rok en ʼn paar sandale vir aandete by die Natural History Museum in Londen.

7 Julie 2016

Tydens Wimbledon steel Kate die kollig in haar heldergeel rok.

25 September 2016

Tydens ʼn staatsbesoek aan Kanada vier Kate die Kanadese vlag deur ʼn rok te dra in wit en rooi.

27 September 2016

Sy toer verder deur Kanada en dra onder meer die mooi groen Dolce & Gabbana-rok.

8 Desember 2016

Vir die tweede keer dra Kate die rooi vloerlengte Jenny Packham-aandrok vir Buckinghampaleis se amptelike ontvangs van diplomate.

25 Desember 2016

In ʼn wynrooi Hobbs-jas met pelsafwerking, prinses Charlotte gemaklik in haar arms.

3 November 2016
By ʼn film-première in Londen in ʼn wit kantrok met ʼn hoë spleet, osbloed skoene en ʼn bypassende handsak.

10 Junie 2016

Tydens die eindstryd vir mans by Wimbledon in ’n midirok met patrone op.

12 Junie 2016

Vir die koningin se verjaardagtee in Londen dra Kate ’n Roksanda-rok met neutrale skoene.

14 Maart 2016

Stylvol in ʼn grys monogram-jas en ʼn wyerandhoed en fluweelskoene tydens die Statebonddiens vir koning Elizabeth se 90ste verjaardag.

18 November 2015

Ontwerper Matthew Williamson het die pastelkleurige rok met turkoois afwerking en blougroen bykomstighede vir Kate gemaak.

18 April 2014

Strandbesoek aan Manly Beach, Australië, in ʼn Zimmermann-rok.

7 April 2014

In Wellington, Nieu-Seeland, in ʼn jas.

9 Julie 2011

In ’n Jenny Packham-rok en L.K. Bennett-skoene by Santa Barbara Polo and Racquet Club.

8 Julie 2011

In ʼn groen Diane von Fürstenberg-rok in LA.

29 September 2011

Kate laat iets eenvoudigs soos dié ligpienk rok stylvol en elegant lyk. Dit was tydens ʼn geldinsameling vir die Royal Marsden Hospitaal in Suid-Londen.

Lees nou

Kate Middleton se stokperdjie

Kyk wie speel Kate Middleton …

Kate Middleton laat wéér die koppe draai!